Anzio September speel Aladdin en Mekaila Mathys is Prinses Jasmin. Foto’s: Canal Walk

Weslander vier die winter – koue en al – met heerlike weggeepryse van Capegate en Canal Walk.

Twee gelukkig Weslander-lesers kan elk óf vier kaartjies vir die ysskaatsbaan in Capegate plus vier kitskos-koepons óf vier kaartjies vir die winterproduksie van Aladdin in Canal Walk wen.

Binnehof verander

Canal Walk verander sy binnehof elke winter in ‘n teaterwonderland en vermaak gehore met hartverwarmende stories, ryk kostuums en oorspronklike produksies.

Vanjaar kom Aladdin aan die beurt, met al die opwinding van die Arabiese Nagte en vlieënde matte, verborge skatte, ‘n ondeunde “genie” en ‘n held wat leer wat dit beteken om dapper te wees.

Volgens Vanessa Herbst, Canal Walk se bemarkingsbestuurder, het hulle die afgelope 23 jaar verskillende geslagte gesinne en families deur hul deure sien kom – van kleuters met groot oë tot ouers wat onthou dat hulle self as kinders hierheen gekom het.

Die titelrol word gespeel deur Anzio September met Mekaila Mathys as die vreeslose Prinses Jasmir, terwyl Onela Metuso die Gees van die Lamp vertolk.

Opvoerings duur van Saterdag 28 Junie tot 20 Julie met drie vertonings daagliks om 11:00, 12:30 en 14:00 (nie op Maandae nie).

Die ysskaatsbaan by Capegate in Durbanville bied weer groot pret vir kinders én hul ouers.

Ysskaatsbaan

Capegate vier die koue op die koelste manier met die terugkeer van die gewilde Capegate-ysskaatsbaan van 27 Junie tot

21 Julie. Vanjaar is dit helderder met ‘n splinternuwe neongloed.

“Die Capegate-ysskaatsbaan het ‘n skoolvakansie-gunsteling geword en vanjaar wou ons iets ‘n bietjie onverwags doen,” sê Zoë Enslin, die bemarkingsbestuurder by Capegate. “Die neon-tema bring ‘n speelse, elektriese energie na die ervaring. Dit is waar wankelrige eerste treë in onvergeetlike gesinsoomblikke verander.”

Dié ysskaatsbaan, geleë in die onderdakparkering by ingang ses, is daagliks van 10:00 tot 19:00 oop. Sessies duur 50 minute en kos R70 (gehuurde skaatse ingesluit).

Twee lesers kan elk vier kaartjies saam met vier kitskos-koepons vir enige vertoning van Aladdin óf die ysskaatsbaan wen deur vóór Vrydag 27 Junie om 14:00 ‘n foto van hierdie berig in die Weslander na 082 576  0453 te stuur. Onthou om die woorde Canal Walk of Capegate saam met jou naam en van en in watter dorp jy in die Weskus woon, te stuur.

• As jy nié die gelukkige wenner is nie, kan kaartjies vir Aladdin én die ysskaatsbaan via Webtickets bespreek word, of wanneer jy in een van die winkelkomplekse is, kan jy op die dag met ‘n bankkaart betaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article