Ná ure se sukkel en hulp van verskeie oorde is ’n klein kietsie Vrydagaand deur Langebaan Animal Care (LAC) uit ’n drein gered.
Die vier weke oue katjie, gedoop Donatella, is uiteindelik om 22:00 uit die drein langs Laguna Mall gered ná ure en ure se gesukkel.
Vrywilligers van die diere-organisasie LAC het Donderdag omstreeks 15:00 op ’n oproep gereageer dat ’n katjie in die drein vassit.
Ten spyte van talle pogings kon niks haar uitlok nie.
Sy was so klein sy het nie eens probeer om by die kos uit te kom waarmee die vrywilligers haar probeer lok het nie.
Esmerelda “Essie” Els, ’n vrywilliger vir LAC, sê die enigste ding waarop die klein katjie reageer het, was die gemiaau van ’n ma-kat, en só het die vrywilligers ure lank die miaau’s van ’n YouTube video vir Donatella gespeel.
Gedurende die dag het Essie en ander helpers tevergeefs probeer om die kietsie uit te kry, en hulle het Donderdagnag met swaar gemoedere huis toe gekeer. Die drein is oop gelos in die hoop die ma-kat kom terug om haar kleintjie te kry, maar Vrydagoggend was Donatella steeds in die drein vasgekeer.
“Ons het probeer om haar uit te kry deur water deur die pype te laat loop, maar dit het nie gehelp nie. Lagoon Plumbing het selfs gehelp deur ’n kamera in die drein af te stuur, maar ons kon haar eenvoudig nie sien nie. Sy was ’n regte Houdini,” meen Essie.
Vrywilligers het ure lank plat op die maag gelê en probeer om die katjie nader te lok. ’n Sonsambreel is later Vrydag oor die drein opgeslaan om die vrywilligers te probeer koel hou, met die temperatuur op 38 °C. Werkers van Spur het gereeld glase water aangedra en twee verbygaande meisies het selfs ysies vir die “reddingspan” gebring.
Essie se man, Carinus Taylor, het tydens sy etensuur daarin geslaag om ’n ander opening na die drein oop te kry.
Essie en Amelia Botha het later besef Donatella het self probeer om uit die drein te spring, maar het die heeltyd teruggegly.
In ’n poging om haar ’n hupstoot te gee, het die twee besluit om ’n “leertjie” vir haar af te gooi deur ’n kombersie te knoop sodat sy iets gehad het om aan vas te klou.
En siedaar! Essie het pluk-pluk aan die kombersie gevoel en ná ’n rukkie was die kietsie naby genoeg vir Essie om haar uit die drein op te tel.
“Ek dink ek het onmiddellik in trane uitgebars,” sê Essie.
Essie is nou Donatella – vernoem na die Teenage Mutant Ninja Turtle – se pleegma, en die katjie sterk ná haar ondervinding in die drein goed aan.
Donatella sal op agt weke deur LAC aangeneem kan word, net soos die vele ander viervoetige vriende by dié organisasie.
. Besoek https://langebaananimalcare.org of hul Facebookblad vir meer inligting of om ’n vrywilliger te word.





