Inwoners van Saldanha is keelvol vir die onwettige kragdrade wat daagliks geïnstalleer word.
’n Inwoner, wat anoniem wil bly, het aan Weslander vertel gemeenskapslede voel dat die Saldanhabaai-munisipaliteit en wetstoepassing nie genoeg doen om die situasie te keer nie. Die inwoner meen dat onwettige kragdrade konstant in Galjoenstraat deur plakkers geïnstalleer word.
“Dit laat ons vir ure, soms dae sonder krag. Ons kan nie kos maak nie en ons ys- en vrieskaste ontvries. Ons lig die munisipaliteit en wetstoepassing gereeld in oor die onwettighede, maar niemand reageer nie,” vertel die inwoner. “Hulle kom met die langste lere en dik handskoene en het al die gereedskap nodig vir die taak.”
Volgens die inwoner het die gemeenskap eie reg gebruik en self die drade verwyder, maar die plakkers was vinnig om weer drade aan te lê.
Ethne Lawrence, woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit, sê die installering van onwettige kragdrade bly ’n ernstige probleem – nie net binne die Saldanhabaai- munisipale gebied nie, maar landswyd.
“Die munisipaliteit se wetstoepassers en elektrotegniese departement werk saam wanneer onwettige kragdrade geïnstalleer word,” sê Lawrence.
Sy voeg by dat onwettige drade slegs deur die munisipaliteit se elektrisiëns verwyder moet word.
“Die wetstoepassingsdepartement verskaf fisieke beskerming aan munisipale werknemers tydens hierdie proses.”
Alhoewel inwoners ongelukkig is, meen die inwoner wat met Weslander gegesels het hulle verstaan dat dié wat die drade lê ook families het. Die inwoner voel egter dat daar ander opsies vir hulle gegee moet word.
“Ons betaal vir ons krag en water, hoekom moet ons so sukkel? Die munisipaliteit en wetstoepassers moet optree en hul werk behoorlik doen, dit nadat hulle gesê het die oomblik wanneer ons sien onwettige drade word geïnstalleer, moet ons bel, maar hulle kom nie.”




