Kaptein Bully Buster het kinders aan die Weskus besoek. Foto:


Dit is nie cool om ’n boelie te wees nie – dit is die boodskap wat honderde kinders verlede week tydens ’n besoek van kaptein Bully Buster aan die Weskus gehoor het.

Dié kinders het ook ingestem om kaptein Bully Buster te help met sy groot taak oor die wêreld heen deur self die boelies in hulle skole uit te snuffel en boelie-gedrag aan te meld.

Dié besoek van kaptein Bully Buster is danksy Matla A Bana en is die eerste van vele Kinderbeskermingsmaand-projekte van dié liefdadigheidsorganisasie.

Matla A Bana is in 2002 deur Monique Strydom begin nadat sy ingelig is oor hoeveel kinders mishandel en nooit gehelp word nie.

“Kaptein Bully Buster is al ’n paar jaar gelede gebore en ons het besluit dat hy weer hierdie jaar Suid-Afrika toe moet kom nadat die polisie en onderwysers vir ons vertel het hoe erg die boelie-gedrag ná die pandemie by skole toegeneem het,” verduidelik Strydom.

In die halfuur-vertoning leer kaptein Bully Buster, vertolk deur die Paarlse akteur Reagan-Reece Carolissen, kinders oor verskillende tipes boelies. Dit sluit dié in wat kinders wil verlei met lekkergoed en ook sosiale media gebruik om kinders uit te lok of te mishandel.

Dan is daar ook Petty Bettie wat saam in die skool is en lelike goed van ander sê.

Kinders word ook geleer wat hulle met elkeen van daardie boelies moet doen en hoe dit aangemeld moet word.

Kaptein Bully Buster was so beïndruk met die gretigheid van die kinders om te help dat hy summier al die kinders aangestel het as Bully Buster-konstabels om so sy werk in die Weskus ligter te maak.

In Maart het die skole­program deel uitgemaak van die Xtreme For Kids Fietstoer wat vier provinsies in tien dae besoek het. Tydens die toer is 15 skole en meer as 5 500 kinders in afgesonderde landelike gebiede bereik. Beide die fietstoer en die skoleprojek word in samewerking met die Suid Afrikaanse Polisiediens aangebied en die polisie kom kuier saam by die skole.

“Dit is juis danksy die polisie dat Kaptein Boelie Buster in die Weskus kom kuier het,” vertel Strydom.

Kaptein Gerrit Jonker, bevelvoerder van Elandsbaai-polisiekantoor, is een van die fietsryers wat aan die 1 900 km Xtreme For Kids Fietstoer deelgeneem het.

“Dit is op sy aandrang dat ons besluit het om ’n besoek aan die Weskus te bring en kaptein Bully Buster saam te bring. Dit is vir Matla A Bana belangrik dat kinders nie met die polisie gedreig word nie, maar moet weet dat die polisie daar is om kinders te help.”

Lede van die eenhede vir gesinsgeweld, kinder­beskerming en seksuele oortredings van Vredenburg en Vredendal het ook deel van die besoek uitgemaak en met die kinders gepraat.

Verskeie lede van die polisie op die Weskus het ook die opleidingskursusse van Matla A Bana bygewoon. Matla A Bana moedig ouers en onderwysers aan om te luister na kinders en om op die uitkyk vir gevaartekens van mishandeling te wees. Dit gebeur dikwels dat kinders selfmoord as ’n uitweg teen boelie-gedrag beskou.

Die Weskus gaan beslis voordeel trek uit die 2 300 Bully Buster-konstabels wat boelies gaan help uitsnuffel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article