Kabeldiefstal neem toe, maar die polisie is nie van plan om die skuldiges daarmee te laat wegkom nie.
Nóg ’n kabeldief is Dinsdagoggend in Vredenburg deur die polisie vasgetrek nadat die Weskus se blitspatrollie verlede week ook ’n man in Vredenburg by die plek waar hy glo die kabels uit die grond gegrawe het, met gesteelde kabels in sy besit betrap het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Vredenburg-polisie, het polisiebeamptes Dinsdag 3 Mei in die vroeë oggendure patrolliediens gedoen toe hulle ’n verdagte voertuig opgemerk het.
Toe die beamptes die voertuig probeer voorkeer, het die motor weggejaag.
Helfrich sê die polisie het die motor gevolg en die bestuurder het uiteindelik die voertuig naby Ongegund tot stilstand gebring. ’n Kragkabel van 70 meter is in die motor gevind.
Twee mans en ’n vrou is op die toneel in hegtenis geneem en het Woensdag in die hof verskyn.




