Om die tyding te kry dat jou kind dood is, is iets waarop geen ouer hulself voorberei nie.

Patrys Louw, ’n inwoner van Piketberg moes hierdie swaar woorde hoor op die oggend van Saterdag 17 Junie. Sy seun, Adriaan Louw, het in ’n motorongeluk gesterf. Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik het die ongeluk net ná 05:00 in die vroeë oggendure gebeur op die Hopefield-pad naby die plaas, Kliprug in die Malmesbury-omgewing.

“Met die polisie se aankoms op die toneel was net die voertuig waarin die oorledene en sy passasier was, albei 21 jaar oud, gevind.”

Helfrich sê dit blyk die voertuig het van die pad af geloop en in ’n stormwaterpyp beland. “Die oorledene is op die toneel dood verklaar en die passasier het behandeling in die Swartland-hospitaal ontvang.”

Volgens Helfrich word die omstandighede rondom die ongeluk ondersoek en is ’n dossier van strafbare manslag oopgemaak.

Louw het aan Weslander vertel dat hy die nuus omtrent 08:00 ontvang het.

“Ek was stukkend.”

Hy het gesê Adriaan en sy vriend Jason Jordaan was op pad terug na die varkplaas Chalala waar hy gewerk en gewoon het, en vermoed die ongeluk het kort ná middernag gebeur. Louw het verduidelik dat dit ’n stil en donker pad is en moontlik die rede is waarom die voertuig eers later gevind is. Louw het aan Netwerk24 gesê toe die kar die sement-stormwaterpyp tref, het Jordaan glo sy bewussyn verloor weens die pyn. “Hy het in die ambulans wakker geskrik en moes toe hoor sy jarelange vriend is oorlede.”

Louw het gesê hy en Adriaan was baie na aan mekaar. “Ons het alles saam gedoen. Hy was ’n energieryke, liefdevolle, lewendige mens. Hy wou net sy vlerke sprei.”

Pa en seun het die aand voor die ongeluk nog gepraat. “Hy het my vertel dat hy verlang en huis toe wil kom.”

Die troosdiens sal op Saterdag 24 Junie by NG gemeente Piketberg om 11:00 plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article