Emosionele familie, vriende en kollegas het Sondag 9 Januarie in Piketberg se hoofstraat blomme geplaas op die plek waar Natasha vermoor is.Foto: Verskaf


Die polisieman wat na bewering sy vriendin op Sondag 2 Januarie voor haar 11-jarige seuntjie en ander familielede doodgeskiet het, sal vandag (Donderdag) om borgtog aansoek doen.

Dié voorval het die gemeenskap van Piketberg geruk. Inwoners staan nou saam en het in hul massas opgeruk toe die verdagte verlede week in die hof verskyn het. Die beskuldigde is aangekla van moord, poging tot moord en die afvuur van ’n vuurwapen in ’n openbare plek, en nog aanklagte kan bygevoeg word namate die ondersoek vorder, het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), bevestig.

Sers. Richard Smith het glo op die noodlottige dag Natasha Booise (32) in Hoofweg geskiet toe sy nie saam met hom wou gaan nie. Booise het saam met haar familie foto’s in die dorp geneem toe die voorval plaasgevind het. Volgens berigte het die verdagte haar kort-kort gebel en sy het elke keer gesê sy gaan eers tyd saam met haar familie deurbring voordat sy by hom gaan aansluit.

Smith wou glo nie dié antwoord aanvaar nie. Hy het Booise en haar familie opgespoor waar hulle besig was en wou hê sy moet saam met hom in die motor klim.

Booise het glo vasgeskop en geweier, waarna Smith na bewering sy dienspistool uitgehaal en haar verskeie kere geskiet het. Volgens ’n familielid het sy probeer weghardloop. Sy is egter in die gesig, rug en sy geskiet en het later op die toneel aan haar wonde beswyk. Smith het na bewering ook gedreig om Booise se niggie, wat probeer keer het, te skiet.

Billy Claassen, ’n gemeenskapsleier, het by Smith se vorige hofverskyning ’n petisie en memorandum van die gemeenskap aan die NVG oorhandig waarin hulle die staat vra om borgtog teen te staan.

“Dit is ’n geslagsgeweld-saak en dus ’n ernstige saak. Ons kan nie mense soos Smith in ons gemeenskap toelaat nie. Hy is ’n gevaar vir die gemeenskap,” meen Claassen.

“Hy is veronderstel om die gemeenskap te beskerm – veral vroue en kinders,” het Claassen gesê.

Volgens Ray van Rooy, die Bergrivier-burgemeester, wat ook Piketberg se wyksraadslid is, ken hy die oorledene persoonlik omdat hulle in dieselfde straat woon. “Natasha het gewis nie verdien om só te sterf nie. Sy was ’n mense-mens wat nooit enigeen skade sou aandoen nie,” vertel Van Rooy.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article