Die land is tans behoorlik groen-en-goud met die Rugbywêreldbeker – en almal sal Sondagaand omtrent gespanne wees wanneer ons Bokke die Franse Hane in ’n beslissende kwarteindstryd aanpak.

En die afgelope maand laat dit ’n knop in ’n mens se keel wanneer die strate gevul word met ’n see van groen-en-goud soos wat landsburgers vanuit alle oorde die nasionale rugbyspan ondersteun.

Ongelukkig gaan hierdie kameraadskap sekerlik verdwyn sodra die eindfluitjie van die Bokke se laaste wedstryd van die toernooi blaas.

Ons is dalk vir ’n wyle verenig op die sportveld, maar die vraag is dus, is ons regtigwaar trots Suid-Afrikaans?

’n Onlangse studie het getoon dat die meerderheid jong gegradueerdes eerder ’n lewe anderkant die waters wil gaan soek.

Die redes spreek vanself – ’n onbeholpe regering wat toelaat dat misdaad hoogty vier en dat die eens florerende ekonomie nou in duie stort. Die talle Bokondersteuners in die buiteland sal sekerlik hiermee saamstem.

“Wie met ’n gesonde verstand wil ’n toekoms vir hulself en hul gesinne hier skep?” meen baie.

Maar laat ons vir eers, terwyl ons kan, Sondagaand ons volle ondersteuning agter die Bokke sit, al is dit net om vir ’n wyle te kan vergeet van die absolute anargie waarin ons land homself deesdae bevind.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article