Die aanhoudende gesukkel met riool wat in Witteklip oorloop, is ‘n groot kopseer vir inwoners. Hulle meen hul pleidooie val op dowe ore.
Ten spyte van herhaaldelike uitreike na die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) en raadslede om hulp met die probleem, word volgens ‘n groeiende aantal inwoners maar min daaraan gedoen.
Strate wat geïdentifiseer word as dié met die grootste probleme is die Suidelike-verbygang sowel as Lyster- en Tugelastraat.
Een inwoner, wat verkies om anoniem te bly uit vrees vir vergelding, het aan Weslander vertel die riool het onlangs een Sondag só erg oorgeloop dat mense op pad kerk toe deur die stank oorval is.
‘n Inwoner van Tugelastraat meen dit hou ‘n gesondheidsgevaar in wanneer kinders onwetend in die riool speel en kieme opdoen. “Ouers is nie altyd in staat om volle toesig oor hul kinders te hou nie, wat daartoe lei dat kinders op hul eie gelaat word en in die rioolwater rondspeel. Buiten dit, is die reuk ook steurend. Ek wonder of die kundigheid wat die munisipaliteit het, gebruik word om die fundamentele probleem te diagnoseer?
“Hierdie kwessie is ‘n groot en herhalende probleem. Inwoners wil ‘n verbetering in reaksietyd en probleemoplossing sien, en dit moet geïmplementeer word,” voeg die inwoner by.
‘n Ander inwoner het ook klem daarop gelê dat die munisipaliteit se reaksietyd op klagtes nie van goed is nie. “As hulle selfs net een keer ‘n week uitkom, sal die probleem dalk nie so erg wees nie. Ons sit met kroniese siek pasiënte wat hierdie reuke moet verdra en dit veroorsaak net nóg probleme wanneer dit by hul gesondheid kom. Iets drasties moet gedoen word.”
Op navraag aan die SBM oor die kwes-sies waaroor inwoners kla, het Ethne Lawrence, ‘n woordvoerder van die SBM, gesê die munisipaliteit hanteer alle klagtes oor dienslewering volgens hul kliëntediens-
handves. Sy het benadruk dat die SBM daartoe verbind is om in die behoeftes van inwoners te voorsien “na die beste van ons vermoë en binne die tydsbestek van die handves”.
Sy moedig inwoners aan om klagtes oor munisipale dienslewering by die 24-uur-oproepsentrum by 022 701 7061/6974 aan te meld. Volgens haar word klagtes aangeteken en na die onderskeie departemente verwys vir aandag.
Volgens Lawrence kan die SBM slegs kommentaar aan Weslander lewer en opvolg oor individuele gevalle wat reeds by die munisipaliteit aangemeld is en waarvoor geregistreerde saaknommers bestaan.





