Inwoners van die gebied onder die Saldanhabaai-munisipaliteit is keelvol vir beurtkrag.
Huishoudings moes met die aanhoudende beurtkrag vinnig aanpassings maak en vind dit baie frustrerend.
Die Vredenburgse inwoner Nadia Dreyer het aan Weslander gesê die aanbreek van beurtkrag het haar huishouding se roetine, veral met dié dat sy kinders het, heeltemal omvergegooi. Dit sluit in badtyd, slaaptyd en maaltye, wat haar dwing om alternatiewe planne te maak en in te stel.
Boonop doen gerugte die ronde dat kragtariewe weer sal styg – iets wat Suid Afrikaners nie kan bekostig nie. “Hulle wil ons elektrisiteit duurder maak, maar daar is amper nooit elektrisiteit nie. Wat is die punt?” vra Dreyer.
Felicia Adams, ’n inwoner van Vredenburg, stem saam en sê haar roetine is ook weens beurtkrag omvergegooi. Sy sê die take wat sy gewoonlik in die oggende doen, moes sy na die middae verskuif.
“Beurtkrag maak my moeg en my hele slaapskedule is daarmee heen. Ek moet lig slaap omdat dit snags as die krag af is, pikdonker is, want daar is veral in daardie tye rondlopers,” sê sy.
Op ’n ander noot, voeg Adams by, het beurtkrag ’n finansiële invloed op ondernemings.
Ashley Constant van Saldanha meen uit ’n sakeperspektief is beurtkrag ’n groot terugslag. Hy ervaar uitdagings met sy rekenaar en kliënte omdat almal se beurtkragskedules verskil. Hy sê daar is ’n paar oplossings wat uitgeoefen kan word.
Volgens Regan Thaw, ’n woordvoerder van die premier se kantoor, is die Wes-Kaapse regering bewus dat Eskom kontantvloeiprobleme het en finansieel lewensvatbaar moet word, “maar dit kan nie ten koste van inwoners gebeur nie. In plaas daarvan moet die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) dit oorweeg om ’n verhoging toe te staan ??wat nie bo die huidige inflasiekoers is nie – wat die maksimum sal wees wat inwoners moontlik kan dra,” sê Thaw.
Inwoners is desperaat dat ’n oplossing gevind moet word. “Die land het krag nodig. Ons regering moet sy sokkies so vinnig as moontlik optrek,” voeg Constant by.




