’n Inwoner van White City, Saldanhabaai, wag al die afgelope 14 jaar vir die titelakte van sy huis.

Die inwoner, wat nie sy naam genoem wil hê, het sy ongelukkigheid oor die lang wagperiode met Weslander gedeel. Volgens die inwoner is dit nie net hy wat vir sy titelakte wag nie, maar baie ander inwoners ook. “Baie mense is reeds in die graf sonder om eienaarskap van hul huise op te eis. Ek het talle e-posboodskappe aan die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) gestuur, sonder sukses of bevredigende antwoorde,” sê hy.

Volgens Ethne Lawrence, ’n woordvoerder van die SBM, is die individuele oordrag van die erwe van die White City-behuisingsprojek vertraag aangesien ’n gedeelte van die grond aan die nasionale departement van openbare werke en infrastruktuur behoort.

Volgens Lawrence is ’n aansoek vir die oordrag van die spesifieke grond ingedien.

“Die SBM is gedurig in kontak met die provinsiale departement van menslike nedersettings oor die vordering met die oordrag van die grond van die nasionale departement van openbare werke en infrastruktuur,” voeg sy by.

Muneera Allie, ’n woordvoerder van die provinsiale departement van menslike nedersettings, het ook bevestig dat die oordrag van die betrokke titelaktes in White City weens dié probleem vertraag word. Allie sê die departement het op sy beurt ook ’n aansoek by die betrokke nasionale departement vir die oordrag van die stuk grond aan die SMB ingedien om die munisipaliteit in staat te stel om die dorpstigting en die vrystelling van die titelaktes af te handel. “Tans het die departement nog nie ’n besluit geneem om die vrystelling van die eiendom goed te keur nie.”

Allie sê hulle volg gereeld op. ’n Navraag is aan die nasionale departement van openbare werke en infrastruktuur gestuur, maar teen druktyd is dit nie beantwoord nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article