Jare gelede bevind ek my op ’n plaas buite Tulbagh waar ons ’n landbou-implement moes aflaai. Die boer het egter nie ’n laaibank of die nodige toerusting gehad waarmee ’n mens so ’n swaar implement van ’n vragmotor af kon lig nie. Hy kry toe sy buurman om met sy laaigraaf te kom help met die aflaaipoging.

Terwyl ons daar staan en planne maak en aflaai, vra ek die buurman, ’n Engelsman, of hy grootgeword het op die plaas waar hy boer. “Nee, ek is ’n inkommer,” sê hy.

Toe ek vra “Nou hoe lank boer jy al hier?” verneem ek hy bly al 16 jaar daar. My reaksie was, “Dit is mos al lank genoeg om nié meer as ’n inkommer gereken te word nie!”

Hy antwoord toe dat as jy nie deel is van een van die bekende families van daardie omgewing met familiebande wat al oor bykans 300 jaar strek nie, word jy in daardie geweste gereken as ’n inkommer.

’n Ander “inkommer” wat my besonder beïndruk het, was ’n middeljarige man, David, van Ierland. Ek het hom ook ontmoet gedurende die jare wat ek met landbou-implemente gesmous het.

David het by ’n organisasie in Bellville gewerk wat met behulp van Europese skenkergeld betrokke was by die ontwikkeling en finansiering van kleinboere in Namakwaland. Hy het ná skool in Ierland landbou gestudeer. Voordat hy na Suid-Afrika gekom het, het hy onder meer vir ’n hele aantal jare ’n melkery in die Falkland-eilande bestuur en ook ’n melkery in Kenia.

Toe ek dié Ier leer ken het, was hy nog maar net vier jaar in Suid-Afrika. Die opvallendste was egter dat hy vlot Afrikaans gepraat het. Toe ek hom daaroor uitvra, was sy gevatte antwoord dat ’n mens nie in Namakwaland kan werk as jy nie Afrikaans kan praat nie. So ’n bek moet jêm kry en so ’n inkommer verdien my respek.

Siende dat ekself nog nie lank aan die Weskus bly nie, val ek ook nou in die “inkommer”-kategorie en hoor ek dikwels “Maar dan is jy mos ’n inkommer.” Ek sien egter dat Langebaan nog maar net meer as 100 jaar oud is; darem nog nie so oud soos Tulbagh nie.

Ek voel egter nie alleen nie, want dit lyk my hier is baie inkommers in hierdie wêreld. Heelparty van die mense wat ons die afgelope paar maande hier ontmoet het, bly nog nie eens ’n jaar lank hier nie en as ek kyk hoe baie nuwe huise hier gebou word, moet hier vir seker nog heelwat “inkommers” op pad wees.

Maar ek twyfel of ’n inkommer sommer ’n ware Weskus-klong sal word. Nee, daarvoor lyk dit my moes jy omtrent hier gebore gewees het en die sout seelug saam met moedersmelk ingekry het.

Dit is ook maar so met iemand wat in die stad groot geword het en hom dan in die Karoo gaan vestig. Aanvanklik is die aanpassing groot en dit mag jare neem om goed daar aan te pas, maar as daardie wêreld eers onder jou vel ingekruip het, is dit net so swaar vir jou as jy die dag moet afskeid neem.

Ek glo dit is dieselfde hier aan die Weskus. Gesoute Weskussers én ander “inkommers” wat al langer hier bly, van waar ook al hulle gekom het, verseker my dat ons skuif hierheen die beste besluit is wat ons nog geneem het.

Die ander vraag wat ek gereeld moet beantwoord, is: “En hoe ervaar jy die Weskus?” Port Elizabeth staan algemeen bekend as die “vriendelike stad”, maar ek dink hulle moet ’n slag ‘n draai aan die Weskus kom maak. Ons ervaar dat ons met ope arms hier verwelkom is. As iemand hoor ons is nuut hier, hoor ons telkens “baie welkom aan die Weskus, ons glo julle sal baie gelukkig wees hier”.

Ons het ook al meermale vreemdelinge hier by die see raakgeloop en aan die gesels geraak en die einde van die gesprek is dikwels, “Ons bly by so-en-so ’n adres, as julle ’n kans het, kom drink koffie.”

Sulke hartlikheid skyn soos ’n sagte son regdeur die mis en wind en maak die Weskus ’n plek waar jy jou hart kan verloor.

* David Malherbe is ’n vryskutskrywer van Langebaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article