Hoewel digitale identiteitsdokumente veronderstel is om verbeterde sekuriteit teen identiteitsdiefstal te bied, blyk dit uit verskeie aanlyn bronne dat identiteitsdiefstal en bedrog eerder toegeneem het.

Suid-Afrika se digitale identiteitsbedrog het volgens ‘n studie van die South African Fraud Prevention Service eksponensieel gegroei sedert die grendeltyd in die Covid-19-pandemie. Volgens die studie het dit tussen 2023 en 2024 met 400% gestyg.

Volgens Tshepo Magoma se studie, “The effectiveness of the South African Smart ID card: Fighting digital identity fraud”, is die hoofrede vir die kommerwekkende groei die kwesbaarhede in aanlyn databerging en sekuriteit in die geheel.

Volgens Magoma voer voorstanders van die Smart ID-kaartprogramme aan dat dit voordele inhou soos meer akkurate en doeltreffender lewering van staatsdienste. Om ‘n Smart ID-gebruiker te verifieer, word biometriese vingerafdrukverifikasie of ‘n pinkode, wat slegs aan die gebruiker bekend is, gebruik. Veiligheidsagteware moet ook identifikasiebesonderhede beskerm en verseker dat slegs gemagtigde staatsamptenare die kaart se data kan lees en verifieer met behulp van kontaklose, masjienleesbare skandeerders.

Magoma beklemtoon dat die insluiting van hierdie biometriese identifikasie veronderstel is om dit onmoontlik te maak om die kaart te dupliseer.

Sedert die bekendstelling van die Smart ID-kaart is volgens Magoma se studie egter meer gevalle van veral vals huwelike en identiteitsdiefstal aangemeld. “Die Suid-Afrikaanse regering bly egter vasberade dat sy Smart ID-kaart onkreukbaar is en beweer dat gevalle van identiteitsbedrog met die vorige groen strepieskode-ID-boeke verbind kan word,” skryf Magoma.

Business Tech benadruk in ‘n artikel oor identiteitsdiefstal dat dokumentêre en digitale identifikasiestelsels se betroubaarheid ondermyn word deur bron-dokumente wat vervals word of waarmee gepeuter word.

Weskussers beweeg na ‘n tydperk van verhoogde vertroue op digitale stelsels en aanlyn transaksies, wat ongelukkig nuwe weë vir identiteitsdiefstal skep, aangesien misdadigers kwesbaarhede in hierdie stelsels uitbuit.

Een van die grootste bronne van data-oortredings is as kuberkrakers toegang tot groot databasisse met persoonlike inligting verkry.

Misdadigers koop dié gesteelde persoonlike inligting op die Dark Web aan om identiteitsdiefstal te pleeg en gebruik phishing-e-posse en oproepe en skadelike sagteware (malware) om gebruikers te mislei om persoonlike inligting te openbaar.

Magoma sê ook hoewel digitale identifikasiestelsels sekuriteitskenmerke bied wat van die probleme van papiergebaseerde stelsels behoort uit te sluit, dit die gebruiker blootstel aan risiko’s soos dataverlies, -korrupsie of die misbruik van data weens ongemagtigde toegang.

Identiteitsdiefstal het ‘n invloed op die emosionele welstand van slagoffers, soos wat vele Weskussers die afgelope tyd agtergekom het. Maar, dit kan ook ‘n ernstige uitwerking hê, soos finansiële probleme, skade aan kredietgraderings, die ontkenning van krediet, verlies van werk, verwoeste reputasies en selfs misdaadrekords.

Weskussers, sakeondernemings en ander instansies moet maatreëls tref om persoonlike inligting te beskerm:

 Kontroleer gereeld kredietverslae en stel kredietwaarskuwings op om verdagte aktiwiteite te monitor.

 Wees versigtig met persoonlike inligting aanlyn en op sosiale media.

 Wees bewus van phishing-swendelary en moenie persoonlike inligting in reaksie op ongevraagde versoeke per e-pos, SMS, WhatsApp, Facebook of foonoproep deel nie.

 Beveilig jou persoonlike inligting en maak seker dat afskrifte van jou identiteitsdokument veilig hanteer word.

 Moenie enige inligting gebruik waartoe vermoedelik toegang verkry is nie.

 Gebruik dubbele verifikasie vir alle rekeninge en produkte – veral vir finansiëlediensteprodukte.

 Registreer vir SMS-kennisgewings om jou te waarsku wanneer toegang tot produkte en rekeninge verkry word.

 Ondersoek en registreer vir kredietverwante waarskuwings wat deur krediet-

buro’s aangebied word.

 Gaan jou bankstate gereeld na.

Bykomende bronne: Your Own Trusted Identity (Yoti); Google AI-bronnelys.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article