Die Laaiplek-polisie deel noodsaaklike veiligheidswenke – van basiese tuisveiligheid tot bankbedrog-voorsorg en strandveiligheid.
Die polisie doen ‘n beroep op die gemeenskap om waaksaam te bly, voertuie te beveilig en kinders op die strand fyn dop te hou.
AO Adele Visser van die Velddrifpolisie het die volgende inligting oor misdaad en veiligheid gedeel en ook ‘n paar veiligheidswenke beklemtoon. Hier is wat jy moet weet om jou gesin en eiendom te beskerm:
• Verskeie huis-inbrake en diefstal is in die Velddrif-omgewing aan die gang en voorvalle van diefstal uit motorvoertuie is ook aangemeld.
• Moenie deure oop los sonder om die veiligheids hek toe te maak en te sluit nie.
• Moenie waardevolle eiendom naby ‘n oop venster of deur hou wat in ‘n armlengte bereik kan word nie.
• Moenie waardevolle goedere in voertuie los nie.
• Maak seker voertuie is gesluit.
• Bring beligting aan in gebiede om jou huis waar dit donker is. Dit help ook as buurtwagte, die polisie of sekuriteitsmaatskappye patrollies doen.
• Alkoholgebruik op strande is verbode
• Hou kinders te alle tye dop wanneer hulle op die strand is moenie dat kinders alleen in die see swem nie.
• Gebruik alkohol verantwoordlik en moenie drink en bestuur nie.
• Maak seker jou voertuig is padwaardig.
• As jy aanlyn koop, maak seker dit is nie ‘n lokval nie. Wees waaksaam met e-pos- en veral SMS-skakels op jou foon.
• Onthou ‘n bank sal jou nooit bel om jou persoonlike besonderhede te vra nie. As jy so ‘n oproep kry of hulle vra dat jy jou bank-app moet oopmaak, gaan eerder self bank toe vir bevestiging.
• Wees waaksaam wanneer jy geld by ‘n OTM trek en probeer om openbare, verlate en veral donker gebiede te vermy.
• Indien jy enige verdagte of moontlike misdadige aktiwiteite sien, meld dit dadelik by die polisie aan.
• Maak seker jy het al die noodgevalnommers op jou foon.



