Jan Maasdorp van Gansstraat in Witteklip wys die gedeelte van sy woning wat Dinsdag in puin gelê is.Foto: Yaël Malgas


Wat vir die Maasdorp-gesin van Gansstraat ’n doodgewone Dinsdagoggend moes wees, het in ’n nagmerrie ontaard toe hul huis deur vlamme verwoes is.

“Ek was in die kamer besig om die kinders se skoolklere te stryk toe ek ’n skiet-geluid hoor. Ek het vlamme by die venster gesien en net die twee kleintjies gegryp en uitgehardloop,” vertel Charmaine Maasdorp. Haar man, Jan, het oudergewoonte saam met hul oudste dogter ’n entjie van haar roete werk toe gestap. Toe Jan om 06:25 terug by die huis kom, was sy seun, Jeffrey, se hokkie in die agterplaas in ligte laaie.

Jeffrey se slaapplek is in puin gelê en twee hoenders, wat in hul hok was, het ook in die brand gevrek.

“Ek was so deurmekaar; ek weet nie eens wie almal gehelp het nie,” sê Charmaine. Sy bedank egter al haar bure in die straat wat onmiddellik ingespring het om te help waar hulle kon. Die brandweer het die brand geblus en die Maasdorp-gesin het die res van die dag gebruik om deur hul besittings te sif. Mure van die huis het gebrand en beddens, klere en al die elektriese toestelle in die huis het in die slag gebly. Die egpaar sê hulle is dankbaar almal kon veilig uit die brand ontsnap. Hulle is ook dankbaar vir hul wyksraadslid, Leonard Mitchell, wat hom na die woning gehaas het om hulle in die chaos by te staan. Volgens die paartjie het ’n beampte van die Saldanhabaai-munisipaliteit reeds die woning ondersoek en beloof om later die week terug te wees.

Die Maasdorps se dankbaarheid strek egter net só ver. Jan sê hy het die plaaslike polisie in kennis gestel van die brand, maar teen laatmiddag het geen polisiebeampte opgedaag nie.

Hy sê hy is meegedeel slegs een polisievoertuig is beskikbaar, en dit was in daardie stadium besig. “Wat as iemand doodgebrand het? Wat as hier ’n kind in die hokkie was wat gebrand het en hulle was nie hier nie?” vra Charmaine ontsteld.

Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, was daar ’n sakeroof dieselfde tyd as die brand en is dié misdaad geprioritiseer aangesien brandweerbeamptes op die toneel in Gansstraat was, en geen vuilspel vermoed word nie.

Barmhartige samaritane wat kan help kan Jan by 073 309 4214 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article