Die toestand van die historiese gebou wat in 1924 gebou is en waarin die Vredenburg-landdroshof gehuisves word, is om die minste te sê haglik.

Dié seeroog wys iets naby aan ’n middelvinger vir die hele dorp en gemeenskap, wie se eerste punt van kontak met regsake dié perseel tussen Kerk- en Piet Retiefstraat is.

En weer eens word die res van die vingers gewys na die departement van openbare werke wat in beheer staan van alle staatsgeboue wat onder nasionale departemente val.

Met Weslander se besoeke deur die jare aan die Vredenburg-landdroshof is dit duidelik dat die stille verval van die statige ou gebou en die onsmaaklike omstandighede waarin die publiek gehelp moet word, net al erger word. Pleister begin al plek-plek by van die vensterhoeke afval.

Die hofbestuurder, Jocelyn Pietersen, baklei al langer as ’n dekade om die departement van openbare werke so ver te kry om die gebou te herstel. Haar versoeke val op dowe ore, met begrotingstekorte wat altyd voorgehou word.

Die badkamergeriewe vir die personeel en die publiek is haglik. Beide die publieke vrouetoilette het nie sitplekke nie, maar die ergste is dat daar net ’n gat in die een deur is waar die handvatsel moet wees. Die publiek het al een hoek van die deur oopgeskeur sodat die vroue darem die deur so onderlangs kan toemaak. Toehou is ’n ander saak.

Die manspersoneel moet al maande met net een urinaal tevrede wees en moes vir ’n geruime tyd ook hul sake in die donker afhandel omdat die lig buite werking was.

Daar is nie ’n venster in die manspersoneel se toilet nie, en die ander urinaal is geblok, maar word nie herstel nie.

Die geriewe is heeltemal onvoldoende en word skaars onderhou, met net geringe onderhoudstake wat soms verrig word.

Beskuldigdes moet met hul regsadviseurs oor hul private sake in die polisiekantoortjie by die selle konsulteer ten aanhoor van al die ander gevangenes.

Ten spyte van die geweldige aanwas van mense in die dorpe wat deur die Vredenburg-landdroshof bedien word, is deur die jare geen nuwe geboue op die perseel opgerig nie, maar net tydelike opslaankantore, wat vrek koud in die winter en hel warm in die somer is.

Die Vredenburg-landdroshof bedien buiten Vredenburg ook Saldanha, Jacobsbaai, Paternoster, St Helenabaai en al die plase en kleinhoewes tussenin.

Beskuldigdes, getuies, regslui en die publiek skuur hier letterlik skouer om hul sitplekke in te neem.

Vroue wat van ver af per taxi vir onderhouds- of beskermingsbevele reis, moet buite in die wind en weer op ou houtbankies sit.

Mense in rolstoele het ook nie ’n maklike taak om in die gebou te kom nie.

Die personeel is, volgens Pietersen, al jare lank oorwerk en heeltemal te min vir die hoeveelheid sake wat deur die hof verwerk moet word.

Wanneer daar beurtkrag is, staan die hof doodstil en word hofsake vertraag.

Weslander het indringende vrae aan die departement van justisie en die openbare werke gestuur en hulle geruime tyd gegee om te antwoord, maar teen druktyd op Woensdag 11 Oktober was daar nog geen terugvoer oor die aangeleentheid nie.

  • Stuur e-pos na nuus@weslander.co.za en laat weet Weslander gerus wat jou siening van die stand van sake by die hof is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article