Die Weskus-polisie doen ‘n beroep op inwoners om misdaad te rapporteer en om in die lig van die vlaag moorde die afgelope tyd, veral in Vredenburg en Saldanha, te help om die skuldiges aan die pen te laat ry.
“Mense moenie stilbly nie. As hulle weet van misdaad, soos waar ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie gebêre word, en dit nié rapporteer nie, dra dit hul goedkeuring weg dat mense koelbloedig daarmee vermoor word.”
Só meen kapt. Tania Helfrich, ‘n polisiewoordvoerder vir die Weskus-polisie.
Sy sê verder as iemand ’n gesteelde selfoon of TV probeer verkoop, moet mense dit rapporteer. “Want anders is jy net so skuldig soos die persoon wat die artikel gesteel het.”
Sy raai ook inwoners aan om gebruik te maak van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se tolvrye-teenkorrupsienommer by 08600 701 701.
“As jou saak volgens jou nie na behore ondersoek word nie, of jy voel dat jy nie reg behandel is tydens jou interaksie met die polisie nie, rapporteer die klagte. Ook as jy weet van korrupte bedrywighede van polisiebeamptes – rapporteer dit!”



