Die probleem oor rommel en modder wat gedurende swaar reën en storms uit die twee stormwaterpype by die ou historiese Hoedjiesbaai Hotel in Saldanha op die strand en in die baai gespoel word, is al jare ’n probleem– en daarmee saam die vrot seebamboes wat met laaggety op die sand bly lê.
Met verlede week se swaar reën is die stuk strand langs en onder die hotel weer met rommel en ’n stink, groen laag modderslik bestrooi.
Die slik, gemeng met vrot bamboes, bedek ’n wye gebied langs die hotel se konferensiesaal en lok ’n vlaag brommers en vlieë na die hotel, tot groot ontsteltenis van ’n filmspan wat tans besig is om daar aan ’n televisiereeks in die omgewing te werk.
Dolf de Bruyn, die hotelbestuurder, sit nes sy voorgangers met die hande in die hare. Hy kry nie daadwerklike antwoorde nie.
Die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) het intussen die ooglopende rommel soos plastiekbottels kom optel, maar die stink slik lê nog oral.
Volgens Tereza Burger, ’n woordvoerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, kom dié rommel uit afloopwater uit omliggende gebiede soos Hoogland, Saldanha Heights en laer af in Bergstraat.
“Daar word tans na die ontwerp, vervaardiging en implementering van spesiale roosters (grids) voor en teenaan die stormwatertoevoergate (inlets) gekyk,” het Burger verduidelik.
Dit het ten doel om die hoeveelheid rommel wat in die stelsel afspoel, te verminder en hopelik te voorkom.
Die spesiaal vervaardigde rommelvangnette wat in November 2019 bekendgestel is en voor die twee stormwaterpype by die Hoedjiesbaai Hotel vasgemaak is, was volgens Burger ongelukkig nie volhoubaar nie.
Dit was ’n projek wat in samewerking met Sea Harvest gedoen is, met geen koste vir die SBM nie. Die nette het skuifknope gehad wat werkers maklik kon oopskuif om opgehoopte rommel uit te haal.
Dié skuifknope was ook veronderstel om in die geval van ’n groot storm of wolkbreuk onder groot druk self oop te gaan om die rommel vry te laat sodat die nette nie skeur nie.
Dit blyk dat die rommelvangnette nié gereeld genoeg skoongemaak en in stand gehou is nie. Die projek het dus in duie gestort.
Burger het benadruk dat harde reën ’n sterker stroom water as gewoonlik deur die stormwaterstelsel veroorsaak. “Groot volumes modder en vullis word dan met die stroom meegesleur.”
Sy verseker egter dat die munisipaliteit voorbereid en op ’n gereedheidsgrondslag is om veral tydens gure weer of ongewone omstandighede enige vullis wat op die strand uitspoel, skoon te maak.
Hoewel De Bruyn dankbaar is dat die plastiek en ander sigbare rommel verwyder is, sit hy steeds met die stank.
Na verneem word moet ’n proses gevolg word om die vrot seebamboes te verwyder. Burger verduidelik dat die skoonmaak van die strand in afgebakende gebiede, wat Hoedjiesbaai insluit, ’n gereguleerde proses is wat plaasvind soos bepaal deur die seegras-beleid. Seegras word verwyder met ’n permit wat van seevissery bekom word.
“Die seegrasse word verwyder tot bo die hoogwatermerk langs die strand, van waar dit op aangewese dele in hopies bymekaargemaak word om uit te droog en fyngemaak te word. Hierdie droë seegras (droog, om enige metaalerosie te voorkom) word dan in houers (skips) met ’n voertuig na die Vredenburg-stortingsterrein verwyder.
De Bruyn probeer sy uiterste bes om almal gelukkig te hou en in te lig oor die situasie, maar die hotel is besig om gaste te verloor. Oral in die hotel is tekens opgerig dat gaste nie die deure na die stoepe moet oopmaak nie.
Die afgelope naweek het ses kamers se gaste uitgeboek omdat hulle nie meer die reuk en brommers kon hanteer nie.
Terwyl dié situasie toegelaat word om voort te duur, bemoeilik dit De Bruyn se taak om toerisme in die gebied te help bevorder.
’n Blywende oplossing word dringend benodig.





