Die besnoeiing van finansiering vir Badisa deur die staat het Kinderbeskermingsweek op ’n somber noot laat begin. Weslander berig vandeesweek op bl. 9 oor dié diensorganisasie, wat ’n groot rol ten opsigte van kinderbeskerming- en veiligheid vervul, wat ’n laer staatsubsidie gaan ontvang. Dit noop hulle nou om sakelui vir finansiering te nader om noodsaaklike dienste te kan voortsit.
Dit trek weer die staat se vermoë in twyfel om die hande wat hom help, te versterk. Hoewel dit kortsigtig sal wees om te sê die maatskaplike toelaes wat baie ouers maandeliks by die staat kry, uitgebuit en nie tot die versorging van die kind aangewend word nie, maar eerder om sekere ander gewoontes te voed, is die regering geneig om die skouers op te trek en korttermyn-“oplossings” in te stel, soos die R500-per-maand-toelae wat nie in vandag se ekonomie ver strek nie. Dus word simptome behandel, maar nie die oorsaak nie.
Talle organisasies, soos Badisa, probeer egter met baie beperkte hulpbronne juis die oorsaak deur bewusmaking, versorging en volharding takel. Die uitsluitlike doel van die departement van gemeenskapsontwikkeling is om maatskaplike vooruitgang te bewillig en die weerloses te beskerm en welstand te bied.
Mannekrag is reeds min, so hoekom dan die hand byt wat jou probeer help?



