Dit was ’n verwelkoming geskik vir ’n held toe familie en vriende Donderdagaand die Suid-Afrikaanse rekordbreker Leander Pholman terug in Langebaan verwelkom het.
Leander (16) het verlede week aan die Suid-Afrikaanse Hoërskool-atletiekkampioenskappe in die LSEN-kategorie (leerlinge met spesiale behoeftes) deelgeneem. Hier het hy die 400 m en 800 m kafgedraf en ’n nuwe rekord in vir die seuns o.17 400 m-wedloop opgestel in 49:58.
Dié rekord is in 2019 opgestel met 49:62.
“Dit was wonderlik, maar ek is ook bietjie hartseer want ek weet ek kon dit nog beter gedoen het,” meen Leander.
Die tiener maak reeds jare lank naam by Weskus-, Boland- en provinsiale atletiekbyeenkomste en nou is hy amptelik ’n nasionale kampioen.
Leander se vele ondersteuners het Donderdagaand tot laat gewag om hom terug van Germiston te verwelkom.
’n Moeë Leander is met sy aankoms gedruk en gelukgewens met sy nuwe medaljes, terwyl ouma Eva nie die trane kon keer nie.
Volgens sy afrigter, Clive Cupido, is Leander beslis nie ’n oornag-sensasie nie en het sy mees onlangse prestasie ná harde werk gekom.
“Daar is nie ’n ompad nie. Atlete moet deur die pyn werk en wanneer jy anderkant kan uitkom, is wanneer die merkwaardige uitslae kom.
‘Leander gee altyd sy beste tydens oefeninge. Kommunikasie is ook baie belangrik, want hy moet vir my sê wat in sy kop maal voor hy op die baan tree, ek sal dit nooit kan uitwerk nie,” sê Cupido.
Volgens Leander se familie is dit onder Cupido se leiding wat hy veral begin uitblink het. “Leander is baie keer in sy kop. Vir hom is die belangrikste om net te hardloop. Dit prestasies is nie eers so belangrik soos sy liefde vir die sport nie. Afrigter Clive was die een wat die bane saam met hom begin hardloop het, prakties deur die wedloop geneem het en geleer het hoe om die beste uit hom te kry,” vertel die trotse ma Lee-Andi Mustapha.
Mustapha bieg dit is nie altyd maklik om haar seun finansieel te ondersteun nie, maar danksy borge, hulp van Cupido en ander vriende en familie kan Leander aanhou om te doen waarvoor hy lief is. Leander se hoofborg is André Vorster, die Langebaan-sakeman wat Flamingo’s begin het. Volgens ’n familievriend, Kamillah Wilsnach, was Vorster sedert hul ontmoeting bankvas agter die tiener. “Met hul ontmoeting wou Leander al sy medaljes aan [Vorster] oorhandig, maar hy het gesê ‘nee hierdie is joune, jy het dit verdien’. Ek dink deel van sy ondersteuning spruit uit ’n liefde vir die gemeenskap en om Leander te help slaag in sy doelwitte,” sê Wilsnach.
Ná vele foto’s, ’n bord kos en ’n bad was Leander Donderdagaand bly om sy bed te sien. “Dit maak nooit saak hoe laat hy van ’n byeenkoms kom nie, hy moet altyd ’n bad vat voor hy gaan lê,” het sy ma met laggend vertel.





