Drie van die vier honde by die hek waar hulle glo doelbewus uitgelaat is.

Alida Buckle

‘n Vredenburgse honde-eienaar wat vroeër vandeesmaand ál vier haar Duitse herdershonde op een slag verloor het, vermoed iemand het haar honde doelbewus uitgelaat.

Gaylen Fortuin se honde – Apollo, Lady, Ski en Missy – is omstreeks 14:00 op Dinsdag 5 Augustus op ‘n plaas buite Vredenburg doodgeskiet. “Dis baie, baie hartseer. Dit wat met hulle gebeur het, voel nog baie onwerklik.”

Theefonteinstraat – die straat waarin die Fortuin-gesin woon – word ‘n grondpad wat doodloop, in sig van die einde van die dorp se grense.

Weslander het al verskeie kere tevore berig oor die derduisende rande wat skaapboere in die omgewing elke jaar verloor vanweë rondloperhonde wat hul skape doodbyt of vermink. Boere is binne die reg om honde wat op hul plase rondloop, dood te skiet.

Waarmee Fortuin egter nie kan vrede maak nie, is dat iemand dié dag omstreeks 12:15 onregmatig in haar erf was. Dié persoon het die hekke oopgelos.

Hulle groot en klein hekke het skuifknippe. Die gesin maak elke oggend voordat hulle die huis verlaat, seker dat dié knippe toe is, sodat die herdershonde en Blaze, hul Yorkie, nie kan uit nie. Dit kan duidelik op hul veiligheidskamera gesien word dat hulle die kleinhekkie se sluitslot toeskuif.

Op videomateriaal van die veiligheids- kamera kan ook gesien word hoe al die honde net voor 12:20 voor die kleinhekkie wag. Hulle kyk in die rigting van die groot hek, maar nie een van hulle blaf nie. Dit laat die vermoede ontstaan dat die honde dié besoeker of mense geken het.

‘n Mens hoor dan hoe ‘n swaar hek – die groot of binnehek buite sig van die kamera – hard toegestoot word. Niemand was gemagtig om op daardie tyd in die Fortuins se erf te wees nie.

Die kleinhekkie, wat nie op daardie oomblik op knip was nie, gaan dan oop, waarna al vyf honde om 12:22 uitglip en straat-op loop.

Die Fortuins se herdershonde is nooit weer gesien nie, maar Blaze is wel twee dae later teruggekry.

Gaylen was reeds vóór die voorval bekommerd oor haar honde nadat sy op Donderdag 17 Julie ‘n kennisgewing van Wetstoepassing gekry het dat sy nie meer as twee honde op haar erf mag aanhou nie. Sy het uitgesonder gevoel omdat dit algemene kennis is dat daar baie inwoners in Vredenburg is wat meer as twee honde op hul erwe aanhou. Sy het dit ook op die buurt se WhatsApp-groep gedeel. Niemand anders het só ‘n waarskuwing gekry nie.

Gaylen het Donderdag 24 Julie vir Wetstoepassing laat weet dat sy vir haar honde se veiligheid vrees.

Die noodlottige Dinsdagmiddag het die gesin omstreeks 17:00 by die huis gekom en besef die hekke is oop en die honde is weg.

“Ek het die dierebeskermingsvereniging (DBV) se noodnommer gebel om te hoor of hulle dalk honde gedurende die dag opgelaai het. Die persoon wat geantwoord het, het net gesê hy kan my nie help nie en voorgestel ek bel die kantoor die volgende oggend. Wetstoepassing het dieselfde gesê. Ek het die DBV die Woensdagoggend vroeg gebel en hulle het gesê hulle het nie ons honde opgelaai nie, maar dat hulle ‘n plakkaat sal opsit dat die honde vermis word.”

honde blaf glo mense snags wakker

Gaylen het ook weer Wetstoepassing gebel, wat haar ingelig het dat dit mense in haar straat is wat oor die honde gekla het. Die betrokke mense het glo al voorheen daaroor gekla dat die herders- honde se geblaf in die nag hulle pla.

Beamptes het aan Gaylen gesê hulle het videomateriaal waar dié klaers se hond in die nag rondloop, wat die ander honde laat blaf. Die beamptes het haar aangeraai om ‘n klag van diefstal by die polisiekantoor aan te meld.

By die polisiekantoor het sy deur van die polisielede se optrede geïntimideerd gevoel. Volgens haar is sy bruusk ingelig dat sy nie bewyse het dat haar honde gesteel is nie. Sy is daar weg met net ‘n navraagnommer.

In ‘n anonieme oproep is Gaylen laat weet dat ‘n man in ‘n ou blou Ford-dubbelkajuitbakkie met herdershonde agterop in Langebaanweg gesien is. Dit het haar genoop om na die plase in die omgewing te gaan om te hoor of iemand dalk die honde gesien het.

Die mense op plase tussen die dorp en die plaas waar hulle geskiet is, het hulle nie oor hul grond sien loop nie.

Buks van Wyk, die boer op wie se plaas die honde geskiet is, het die voorval bevestig.

‘n Werker se vrou het hom die dag in ‘n stemboodskap verwittig dat die honde op die plaas is.

Hulle is omstreeks 14:00 in die skaapkamp tussen die skape gekry, waarna hulle geskiet is.

Van Wyk het verduidelik dat ‘n rondloperhond volgens wet as ‘n hond sonder ‘n leiband, toesig en identifikasie beskou word, soos die herdershonde gekry is.

Van Wyk het sy skaaphond in ‘n toets- lopie in die dorp afgelaai en die hond het die sowat 5 km na die plaas op die Vredenburg-Velddrifpad in 12 minute afgelê.

Dit was dus moontlik vir die herders- honde om die afstand tussen 12:30 en 13:00, toe hulle opgemerk is, te kon aflê.

honde was deel van gesin

Die Fortuin-kinders van 7, 13 en 16 is erg getraumatiseerd deur die ongelukkige toeloop van omstandighede. Volgens Gaylen is hulle nou verskriklik bang. Die hele gesin gaan nou ook ‘n berader sien.

“Ons is platgeslaan met hoe so iets so wreed in ons buurt, wat ons as veilige buurt ag, kon gebeur.

“Ek voel niemand van die wetstoepas-

singsinstansies het my oproep om hulp as ernstig geag nie. Ek was al twee weke voordat hulle weggeraak het, baie, baie bekommerd oor my honde. My honde was liefdevol. Hulle was nie net honde nie – hulle was deel van ons familie en het die lewe soveel gelukkiger gemaak.”

Gaylen het ‘n Backabuddy-veldtog begin om die private speurder Mike Bolhuis se span te betaal om die saak te ondersoek.

Enigiemand met meer inligting oor wie Dinsdag 5 Augustus in die Fortuins se erf kom rondkrap het, of dalk videomateriaal het van die honde of van iemand wat tussen 11:00 en 12:35 in Theefonteinstraat rondgeloop het, word gevra om Gaylen asseblief by 074 323 0138 te bel.

• Twee ander rondloperhonde het net drie dae ná dié voorval twee van Van Wyk se skape doodgebyt.

Die karkasse van twee van die honde op die plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article