Die St. Helenabaai-hawe begin al hoe beter lyk nadat inwoners vroeër gekla het oor die haglike toestande waarin hy hom bevind.


Die St. Helenabaai-hawe begin al hoe beter en mooier lyk danksy inwoners wat besluit het om self in te gryp.

Weslander het voorheen berig oor die haglike toestand van die hawe (“Hawe lyk ‘skokkend’ ”, 23 Junie 2022). Die St. Helenabaaier Aletta Kleynhans het toe vertel hoe rommelstrooiery handuit geruk het en watter gesondheidsrisiko dit vir die seelewe asook mense inhou.

Albi Modise, ’n woordvoerder van die departement van bosbou, vissery en omgewingsake, het vroeër gesê die departement dra kennis dat kapasiteit ’n uitdaging in die St. Helenabaai-hawe asook ander hawens is.

Kleynhans het vandeesweek gesê werkers is wel gestuur om die hawe skoon te maak, maar inwoners het intussen besluit om sake in eie hande te neem en ook vullis te begin op tel.

Kleynhans is self ook besig om die hawe skoon te maak en takke te snoei.

“Ons moet ons hand op die hawe hou, anders gaan dit net weer begin agteruitgaan,” het sy benadruk.

Sy het ook bygevoeg ’n hoop ou bande lê daar, wat onooglik is en probleme veroorsaak. Hoewel Kleynhans tevrede is met die vordering, meen sy baie werk moet nog in die hawe gedoen word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article