Hierdie grafiek dui die diepte van Grootbaai in Saldanha by verskillende liggings aan. Ligter blou skakerings dui op vlakker water terwyl donkerder blou op dieper gedeeltes in die baai dui.Foto:


Die bou van die Saldanha-hawe is die rede vir die groot veranderings in die diepte van Saldanhabaai, wat die laaste paar dekades waargeneem is.

Nuwe navorsing deur die fakulteit krygskunde van die Universiteit Stellenbosch, wat in Augustus in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Geomatika gepubliseer is, het die veranderings (batimetrie) tussen 1977 en 2021 – oor ’n tydperk van 44 jaar – in die baai ontleed.

Die diepte en sedimentdinamika van die baai oor verskillende tydperke is aan die hand van oppervlakmodelle vergelyk.

Die uitslag van die navorsing dui op ’n algemene toename in diepte sedert 1977 van tussen 0,395- en 3,203 m, en ’n gemiddelde toename in diepte binne Grootbaai van 1,799 meter.

Tussen 1977 en 2021 is ’n algehele volumeverlies van 49 364 560,0 m³ sediment bereken – ’n aanduiding van hoe die sedimentasieproses in Saldanhabaai ná die bou van die hawe verander het.

Die presiese aard en dryfkrag agter hierdie verlies aan volume en waar hierdie sedimente gedeponeer is, vereis nog nadere ondersoek.

In die gevolgtrekkings- en aanbevelings-gedeelte van die navorsingsverslag word bevestig die bou van die Saldanha-hawe was wel een van die groot oorsake van diepte- en sedimentveranderings in die baai oor die afgelope vier dekades.

Volgens die verslag sal dit interessant wees om verdere navorsing te doen om te bepaal of hierdie veranderings moontlik die erosie wat die meeste van Langebaan se strande beïnvloed, sowel as die toeslik van sekere gedeeltes, veroorsaak of versnel het.

Destyds het die Saldanhabaai-munisipaliteit noodsaaklike keerwalle opgerig om die wegkalwe van die Langebaan-strandfront te probeer verminder en die afsakking van seesand te verhoog.

“Hierdie studie was beperk tot die omvang van ’n opname wat in 2021 gedoen is. ’n Volledige opname van Saldanhabaai is nodig om ’n volle begrip te kry van die batimetrie van Saldanhabaai sedert die konstruksie van die hawe,” lui ’n deel uit die verslag.

“Hieruit is dit belangrik om navorsing te kan doen wat ons begrip van hierdie veranderings sal kan verbeter.”

Die Saldanhabaai- watergehalteforum-trust (SBWQFT) het die navorsingsverslag op sy webtuiste gepubliseer aangesien dit inligting is wat die gesondheid van die baai raak.

Die SBWQFT is ’n vrywilliger­organisasie wat sedert 1996 fokus op die monitering van Saldanhabaai en die Langebaan-strandmeer se watergehalte en ekostelsel-veranderings weens snelle nywerheidsontwikkeling en menslike aktiwiteite.

SBWQFT hou elke jaar in Oktober of November ’n ope dag waar die baai se jaarlikse watergehalteverslag voorgelê en bespreek word. Vanjaar se ope dag vind op 4 November in die Athene-konferensiesaal by die Club Mykonos-vakansieoord plaas.

Besoek www.sbwqft.org.za om meer uit te vind oor die ope dag, watergehalteverslag en die uitkoms van die batimetrie-navorsing.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article