Dis skoolvakansie en iewers op ’n sosialemediaplatform lees ek die inskrywing van ’n onderwyser. Hy wil bloot maar net verneem of die ouers nog “orraait” is by die huis, want dis mos weer sulke tyd – skoolvakansietyd. Die brood hou nie en vir ’n paar weke moet planne gemaak word om die kloegoed konstruktief besig te hou.

En dit is juis hier waar die geneuk soms inkom, want daar is net soveel geleenthede om die kinders op uitstappies iewers heen te neem. Daarmee saam moet die begroting vir so ’n skoolvakansie fyn beplan en dopgehou word. Daai ritte na die kinders se gunsteling- eet- en speelplekke moet dus tot die minimum beperk word.

Terug van so ’n uiteet-sessie is dit heeltyd bontstaan en soms kerm en skel dat die kloegoed mekaar nie te lyf gaan nie, of moet ouers aanhoudend vermaan om tog die sit- en slaapkamer mooi skoon en netjies te hou. Pasop as daai verveeldheid op grootmaat by kleinboet aanmeld. Dan moet jy koes en keer dat die hond nie as ’n eksperiment gebruik word om die volgende maanlanding te laat geskied nie.

En iewers kuier ’n gr.-4-juffrou en haar kollega van die hoërskool heerlik saam en geniet die welverdiende rus en vrede weg van die skool af met al hul verpligtinge en soms erge uitdagings met die kinders. Hierdie opvoeders ken die geweldige uitdagings en eise wat die klaskamersituasie aan hulle stel en is daarom maar alte verlig as hulle vir ’n korte wyl net op die self kan fokus.

Ek wil my half verstout om te noem dat dit eintlik reg is dat ons ouers gedurende die skoolvakansies die primêre verantwoordelikheid van ouerwees aan eie bas ervaar, want dis hoe dit mos hoort.

Daarmee saam het ek groot gerustheid in my gemoed dat die oorgrote meerderheid ouers hierdie taak met liefde aanpak, want watter ouer sal heeldag en aldag hul verantwoordelikhede op iemand anders wil pak?

Dit bly egter steeds ’n ope vraag by my hoe hierdie ouers dit vir ’n tydperk van drie weke kan oorleef, met al die oortollige energie wat daagliks deur die klomp lewenslustige kloegoed verbrand moet word.

Dit wil gedoen wees, hoor!

Groot was my verligting om te sien hoe op een van ons bekende strande in die Kaapse metropool gehalte-vakansieprogramme aangebied word.

Die span jeugwerkers is paraat in die uitvoering van hul taak. Dit kan jy sien in die mate van genot wat op die kinders se gesigte gelees kan word. Die versoeking was groot om sommer self aan die uitbundige speletjies van die program te gaan deelneem.

Die prentjie het voor my afgespeel van volwassenes wat bereid is om hul kosbare tyd en kundigheid met hulle wat dit in hierdie tydperk benodig, te deel. Ons kinders word op ’n speelse wyse nuwe vaardighede geleer om die druk wat soms fel in gemeenskappe ervaar word, die hoof te bied. Die belangrikste van alles is dat ons kinders die geleentheid gegun word om bloot net weer ’n slag kind te wees.

Ek praat hier uit eie ervaring, want ek het in my jare van aktiewe betrokkenheid en werk met ons kinders en jeug die uitwerking van hierdie vakansieprogramme beleef. Die saamwees met ander kinders en jongmense in groepsverband skep ’n unieke mate van behoort tot ’n groep.

Nuwe vriendskappe word gesmee en kinders kry die geleentheid om nuwe rolmodelle in jeugleiers te vind.

Die vormingsjare van die kind word gedurende hierdie vakansieprogramme positief gestimuleer.

Die teendeel hiervan kan ook waar word as die kind nie deel is van so ’n veilige, prettige ruimte van behoort nie. Dink maar aan al die riskante plekke en groepe waar beïnvloedbare tieners hulle gedurende hierdie einste tye kan bevind. Die ledigheid wat kinders en jongmense soms oor vakansies ervaar, kan baie maklik tot nadelige eksperimentering met dwelms en negatiewe vriendskappe lei.

My hoop is verder versterk toe ek op hierdie strand in die Kaapse metropool ’n jong man met sy visstok in die hand raakloop. Hy gaan vir die namiddag saam met sy pa visvang. Hy studeer tans by ’n kollege in Kaapstad. Dis vakansie en hy geniet die visvangstorie saam met sy pa sommer baie. Dis ’n lekker manier om die ledige ure te vul.

Hy en sy pa gesels ook oor al sy uitdagings en drome. Hy is van een ding seker, en dit is dat hy sy kwalifikasie in ingenieurswese gaan klaarmaak, want hy wil daardie kwalifikasie gebruik as basis om ’n goeie toekoms te verseker.

My hart swel behoorlik van trots vir hierdie jongman wat so vasberade is om ’n sukses van sy lewe te maak.

Dis vakansietyd en ek betoon hulde aan al ons ouers, oupas en oumas, wat met hul hande vol verseker dat ons kinders veilig en gelukkig oor die hierdie tydperk is. Ek huldig al ons jeugleiers wat saam met ons ouers in die gaping staan en verseker dat ons kinders hul vakansie sinvol geniet.

Opvoeders by ons skole – geniet daai laaste paar dae, dis al amper weer “sulke tyd”!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article