Annelie en Henk Steyn van Mumtaz Limitless met Bybels wat hulle in Botswana gaan versprei. Foto: Letitia van Zyl-Schultz

‘n Plaaslike organisasie sonder winsbejag, Mumtaz Limitless, evangeliste en sake-eienaars van die Weskus sit binnekort hande saam om Bybels aan gemeenskappe in Botswana te versprei.

Geïnspireer deur Johannes 3:16 – “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het” beplan die sake-eienaar Hilgard du Plessis, die evangelis Freddie van der Linde en die stigters van Mumtaz Limitless in Vredenburg, Henk en Annelie Steyn, om sowat 500 Bybels tydens ‘n twee weke lange uitreik te versprei.

Du Plessis, wat Botswana reeds verskeie kere besoek het, sê die behoefte aan Bybels het hom diep geraak.

“Elke keer as ek met mense oor Jesus praat, vra hulle my vir ‘n Bybel. Dit het vir my duidelik geword hoe dringend die nood is,” sê hy.

Dit het daartoe gelei dat hy hande gevat het met Van der Linde en die Steyn-egpaar om saam ‘n verskil te maak. Die betrokkenes het tussen hulle reeds ongeveer 500 Bybels gekoop.

Die span vertrek Saterdag 25 Januarie uit Vredenburg en sal na verwagting bykans 4 000 km aflê. Die eerste deel van die uitreik fokus op die westelike dele van Botswana, waarna hulle deur die Caprivi-strook na die Mohembo-grenspos in die ooste sal reis.

“Ons beoog om nie langer as twee aande op een plek oor te bly nie, sodat ons soveel as moontlik gemeenskappe kan bereik,” sê Annelie Steyn.

Volgens Henk Steyn beplan die span om teen 8 Februarie in Vredenburg terug te wees.

Die Steyn-gesin sê Mumtaz Limitless se leuse ‘Maak ‘n verskil, een projek op ‘n slag’ tesame met hul liefde vir God en mense is die dryfkrag agter elke uitreik. Hulle doen ook ‘n beroep op die gemeenskap om die projek te ondersteun.

Kontak Annelie Steyn by 081 026 8176 of stuur e-pos na info@mumtazlimitless.org om ‘n bydrae te gee.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article