“Carel van Niekerk se liggie is gedoof, sy selfoon antwoord nie meer met ‘n vrolike boodskap nie, sy klaviervingers is nou stil en sy deuntjie sal nooit weer gespeel word nie, maar sy legende leef in ons harte voort.”

Só skryf Piket Implemente in ‘n hartroerende huldeblyk met die afsterwe van Van Niekerk (81), wat op 11 Januarie in die Mediclinic Durbanville oorlede is.

Honderde boodskappe van huldeblyke en medelye het op sosiale media ingestroom namate die nuus oor die “groot boom” in Piketberg se val in die landbousektor die ronde doen. Van Niekerk se gesondheid het die afgelope vier weke dramaties versleg, waartydens hy gereeld in die hospitaal opgeneem is.

Hy is op sy verjaardag – op Woensdag 7 Januarie – weer in die hospitaal opgeneem nadat hy geval het. Sy toestand het vinnig verswak, waartydens hy nie kon praat, eet of loop nie.

By nadere ondersoek is bevind sy toestand het weens ‘n aggressiewe kanker erg versleg, vertel sy familie namens Piket Implemente. Carel, wat veral bekend was vir sy omgeehart, het nog tot Desember 2025 by Piket Implemente gewerk nadat hy 54 jaar gelede die leisels van ‘n familie-onderneming by sy pa, Hennie van Niekerk, oorgeneem het. Hennie was in 1933 die stigter (saam met Sam Krupp) van Van Niekerk en Krupp in Piketberg.

Carel het in 1971 by Van Niekerk en Krupp aangesluit. In 1976 het hy met sy pa se skielike afsterwe die stuur amptelik oorgeneem, vertel sy skoondogter Ilze van Niekerk.

Die onderneming se naam is in 1993 na Carel van Niekerk Ingenieurswerke verander en in 2018 na Piket Implemente, toe Carel se seuns die leisels op hul beurt by hom oorgeneem het.

Volgens die familie sal hy altyd onthou word vir sy uitmuntende landboukennis, kennis van landboumasjinerie en sy liefde vir musiek, gholf in sy jong dae, sy sudokuspel en sy voorkeur vir rooiwyn, biltong, olywe en brandrissiesous.

Van Niekerk was ‘n kranige musikant en veral bekend vir sy vernuf op klavier, saksofoon en trekklavier.

“Hy het ‘n kalm geaardheid gehad en ‘n groot liefde vir sy medemens gekoester,” voeg Ilze by.

Piket Implemente staan vandag bekend as een van die gewildste ondernemings in die saaibedryf in Suid-Afrika danksy Van Niekerk se visie en kennis, voeg sy familie by.

Van Niekerk het boonop in 1990 baanbrekerswerk verrig ten opsigte van die ontwikkeling van die eerste saaimasjiene in die landboubedryf.

Hy laat sy vrou, Soekie, hul seuns Carel jr. en Rossouw, skoondogters Leana en Ilze en kleinkinders Carel, Jani, Leon en Barend asook sy stiefkinders, Julian en Michelle en hul gesin agter.

“Carel was baie lief vir sy vrou, sy kinders, kleinkinders en veral sy familie en vriende, saam met wie hy ‘n glasie kon klink en ‘n potjie gholf in sy jonger dae kon geniet. Hy was baie lief daarvoor om stories uit sy jonger dae te vertel en het veral baie respek vir sy medemens, sy werknemers en wêreldwye klante gehad,” deel sy familie verder.

• Besonderhede oor Van Niekerk se roudiens, wat Saterdagmiddag in Piketberg plaasvind, sal binnekort deur die familie bekend gemaak word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article