“Die grys geslag se grysstof maak saak,” sê Elma Vertue, stigter van die vining groeiende Greymatters program.
Elma Vertue van Langebaan is ’n afgetrede onderwyser, maar opleiding en diensbaarheid loop diep in haar are. Dit is dan ook dié passie wat aanleiding gegee het tot Greymatters, ’n stimulerende en interaktiewe program vir seniors wat reeds groot aanklank in Langebaan en die breër Weskus vind.
Greymatters, met die slagspreuk “Because the grey matter of the grey generation really matters”, fokus daarop om seniors te help verstaan hoekom dit noodsaaklik is om aan te hou leer, beweeg, sosialiseer en betrokke te bly by die gemeenskap.
Volgens Vertue maak begrip die verskil: “As mens die hoekom verstaan, doen jy dit soveel makliker.”
Die program verduidelik op ’n prettige, praktiese en maklik verstaanbare manier wat met die ouerwordende brein gebeur. Die aanbiedings is interaktief, propvol “a-ha”-oomblikke, musiek en toepaslike inligting vir senior burgers.
“Daardie woord wat op die punt van jou tong lê en net nie wil kom nie, is nie noodwendig ouderdom nie,” verduidelik Vertue. “Ons stimuleer eenvoudig nie meer ons sintuie genoeg nie.”
Sy verduidelik dat die oë ’n groot rol speel in breinstimulasie en dat hulpmiddels soos brille soms beteken dat die oë minder beweeg, wat weer die geheue beïnvloed. Greymatters leer eenvoudige bewegings en tegnieke om sintuie wakker te hou en ’n skerp, aktiewe brein te bevorder.
Greymatters is in Januarie 2025 in Langebaan gestig, maar die saad is reeds jare tevore gesaai deur Vertue se studies en werk by die MindMoves Instituut in Johannesburg onder leiding van internasionaal erkende ontwikkelingspesialis, dr. Melodie de Jager. Haar jarelange ervaring met seniors, haar eie navorsing en die boek Die Glinster in my Grysheid vorm die grondslag van die program.

Vertue se hart vir seniors is ook persoonlik. Sy het haar eie ma vir sewe jaar versorg en glo dat aftrede eerder as ‘aantrede’ gesien moet word, ’n fase waar passies uitgeleef en ’n betekenisvolle bydrae gelewer kan word.
As natuurlike uitbreiding van Greymatters bied sy ook SASFA (South African Seniors Fitness Association) klasse aan, ritmiese oefeninge wat sag is op gewrigte, balans verbeter, spiere versterk en sosialisering bevorder. Klasse word tans Dinsdae en Vrydae van 09:00 tot 10:00 by die NG Kerksaal in Oostewalstraat, Langebaan aangebied, en skop weer af op 3 Februarie.

Volgens Vertue is haar droom om meer instrukteurs op te lei sodat seniors regoor die Weskus bereik kan word en eensaamheid aktief teëgewerk word. As voorsitter van die nuutgestigte Helpende Hand Saldanhabaai tak wil sy ook fokus op senior programme wat gemeenskappe versterk.
Haar boodskap aan lesers is eenvoudig, maar kragtig:
“Moenie fokus op wat jy nie meer kan doen nie. Fokus op wat jy nog kan doen. Neem een stap by die voordeur uit en gaan deel jou outentieke self met ander. Ons het net vandag, maak dit tel.”
Vir meer inligting of om betrokke te raak, word die gemeenskap aangemoedig om ’n Greymatters praatjie of SASFA-klas by te woon en deel te word van ’n groeiende, aktiewe en omgee-senior gemeenskap.
Kontak Elma Vertue by 083 382 9723 vir meer inligting of om betrokke te raak.






You must be logged in to post a comment.