Met skole oor die Wes-Kaap heen wat gister, Woensdag 14 Januarie, heropen het, verskerp die Wes-Kaapse Departement van Mobiliteit sy pogings om die veilige vervoer van leerders van en na skole te verseker. Met meer as 3 500 geregistreerde skoolvervoeroperateurs en sowat 6 000 bedryfslisensies in die provinsie, vervul leerdervervoer ‘n noodsaaklike rol om toegang tot onderwys en geleenthede moontlik te maak.
Om nakoming te ondersteun en veiligheidstandaarde te verbeter, bied die departement gratis voertuigtoetse vir skoolvervoeroperateurs van 12 tot 16 Januarie tussen 08:00 en 15:00 aan. Verskeie munisipale en private toetssentrums neem aan die inisiatief deel.
Gekwalifiseerde personeel voer die inspeksies uit en fokus op aspekte soos bande, rem- en ligstelsels, vering en ruitveërs. Die toetse is nie ‘n volledige padwaardigheidstoets nie, maar bepaal of voertuie veilig is om te bestuur.
Ná inspeksie word vir elke voertuig ‘n gedrukte verslag uitgereik, wat gebreke aandui wat aandag verg.
Terselfdertyd sal die Provinsiale Reguleringsentiteit se Operateurhulpsentrum op Wiele by die Gene Louw verkeerskollege in Brackenfell beskikbaar wees om operateurs te help met bedryfslisensie-aansoeke, vordering met bestaande aansoeke en algemene navrae.
Die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, Isaac Sileku, het beklemtoon dat leerdervervoerveiligheid samewerking tussen die regering, operateurs en ouers vereis. Hy het ouers aangemoedig om seker te maak dat voertuie padwaardig is, dat bestuurders oor geldige professionele bestuurspermitte beskik en dat voertuie nooit oorlaai is of leerders onveilig vervoer word nie.
Die departement se verkeerswetstoepassingspanne sal ook geteikende bedrywighede oor die Wes-Kaap heen uitvoer om veilige leerdervervoer te ondersteun. Deur verantwoordelikheid te neem en padreëls na te kom, kan alle rolspelers help verseker dat elke leerder veilig by die skool aankom.




