Inwoners van die idilliese dorpie St. Helenabaai blyk nou ’n teiken van huisrowers te wees.Foto: Alida Buckle


Net die afgelope maand alleen was daar reeds twee gewelddadige huisrooftogte in die eens rustige maar vinnig uitbreidende St Helenabaai.

Die nuutste neiging is om mense tussen middernag en dagbreek in hul huise te oorval en te beroof.

Vir die 40-jarige seun van ’n bejaarde egpaar, wat die afgelope naweek in hul huis in St. Helenabaai aangerand en beroof is, het die bebloede toneel waarop hy afgekom het, hom aan ’n plaasaanval herinner.

Sy ouers is Vrydag (22 Maart) omstreeks 02:30 in hul slaapkamer oorval nadat ses rowers met klapmusse aan ’n venster oopgedwing het.

Hul bed was ná die tyd vol bloed omdat die rowers bykans onmiddellik die 67-jarige man met skroewedraaiers begin steek het – op sy knieë en hande; oral waar hulle kon bykom.

Hulle wou dadelik die egpaar se selfone hê en het hulle gedwing om vir hulle die nodige inligting te gee om die selfone oop te sluit en daarna het hulle aangedring op die PIN-nommers vir die banktoepassings.

Die man en sy 66-jarige vrou se hande en voete is vasgebind met geskeurde lakens en wat die rowers ook al in die hande kon kry. Hul monde is ook toegestop.

Die rowers het die egpaar vir sowat twee en ’n half uur gemartel voordat hulle die gesteelde items geneem, uit die huis en oor die heining gevlug het – vermoedelik na ’n wagtende wegkommotor waarmee hulle na alle aanduidings reguit Kaapstad toe is.

Die vrou het haar met haar vasgebinde hande en voete tot buite gewikkel, maar weens die wind het die bure eers sowat 07:00 die oggend haar noodkrete gehoor.

Die seun vertel dat die wind dié nag verskriklik gewaai het en dit was ook mistig.

Die man het met steekwonde oor sy hele lyf tot in die sitkamer aangesukkel, ook steeds met hande en voete styf vasgebind. Sy seun, hul bure en die polisie het hom daar gekry.

Die egpaar is na die Life Weskus-private hospitaal se ongevalle-afdeling geneem waar hul wonde behandel is. Hoewel die egpaar die aand ontslaan is, wag daar nog vele opvolgbesoeke vir die man en ook moontlike operasies om die skade aan sy een hand en neus te herstel.

Die familie wou nie hul name genoem hê nie, maar het met Weslanderoor die voorval gepraat om die breë St Helenabaai-gemeenskap oor die gewelddadigheid van die aanval in te lig.

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die voorval bevestig en gesê die rowers het met elektroniese toerusting, juweliersware, selfone en al die man se vuurwapens wat in die kluis toegesluit was, gevlug. Sy het benadruk dat inwoners van St. Helenabaai waaksaam sal moet wees, en verwys na nog ’n voorval die afgelope maand wat in die nag tussen Donderdag 29 Februarie en Vrydag 1 Maart plaasgevind het.

Drie onbekende rowers het ’n slapende 53-jarige man in sy slaapkamer oorval.

Hulle was met messe bewapen en het hom eers vasgebind en toe met die messe gedwing om sy bankkaart se PIN-nommers vir hulle te gee. Hy is ook gedwing om geld per e-wallet oor te plaas.

Die rowers het met onder meer sy twee selfone, ’n skootrekenaar en voertuigsleutels gevlug. Die sleutels is egter later in die tuin gekry.

In nog voorvalle is ’n 27-jarige man se vuurwapen, geld en selfone uit ’n huis gesteel op Sondag 10 Maart terwyl hy geslaap het. Dieselfde nag is binne loopafstand by ’n huis in die buurt langsaan ingebreek en onder andere ’n grootskermtelevisie en skootrekenaar buitgemaak.

Vroegoggend Sondag 3 Maart is by ’n 47-jarige man se huis ingebreek. Toe die man die inbreker in die huis gewaar, het die skurk ’n skootrekenaar gegryp en weggehardloop.

Helfrich maan inwoners om hul veiligheidsmaatreëls te verskerp en op die uitkyk vir vreemdelinge in die buurt te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article