Die personeel van Compass Fishing in Saldanha sal traumaberading kry ná ’n gewapende roof by dié onderneming.
Genadiglik het niemand seergekry toe gewapende rowers met vuurwapens Vrydagoggend 25 Maart toegeslaan het nie.
Volgens AO Yolanda Kotze, woordvoerder van Saldanha-polisie, is personeellede van Compass Fishing in Hoofstraat, Saldanha, deur die rowers oorval net nadat hulle die onderneming vir die werksdag oopgesluit het.
Twee werkers is in die onderneming aangehou terwyl drie rowers juweliersware, skootrekenaars en kontant gebuit het. Daarna het die gewapende mans gevlug.
Ulrich Donaggi, direkteur by Compass Fishing, het Dinsdag aan Weslander gesê almal is “oukei, en ons het traumaberading aan al ons personeellede gebied”.
Hy sê daar is minimale voorkomende maatreëls wat gehandhaaf kan word om ’n soortgelyke voorval in die toekoms te probeer verhoed en daar sal altyd ’n veiligheidsrisiko wees aangesien daar gereelde deurvloei van mense in die besige Hoofstraat is.
Hy glo die oplossing is die mobilisering van die gemeenskap om betrokke te raak by die finansiering en installering van ’n groot kringtelevisiekamerastelsel met kameras in Saldanha, Vredenburg en St. Helenabaai wat deur die polisie en die buurtwagte vanuit ’n beheerkamer dopgehou kan word.
Weslander berig gereeld oor soortgelyke stelsels in Langebaan en in die Bergrivier-munisipale gebied wat baie suksesvol is ten opsigte van die voorkoming en bekamping van misdaad. AO Kotze vra ooggetuies om na vore te kom of enigeen met inligting wat die ondersoek na die roof by Compass Fishing kan bespoedig om die Saldanha-polisie by 022 714 8300 te skakel.



