Net om haar leerders elke dag te sien, was ’n hoogtepunt vir Reona Farmer (65).
Dié onderwyser by die Karitas Spesiale Skool in Vredenburg tree ná 36 jaar by die skool en meer as 40 jaar in die onderwys af.
“Elke dag was ’n hoogtepunt in my lewe. Net om nog te werk of om nog ’n dag vir ’n kind onvergeetlik te maak of om net te sê ‘Juffrou is baie lief vir jou’, dan straal die ogies, want daar is baie seer daar buite,” meen Farmer.
Sy het in 1988 by die Karitas Spesiale Skool as onderwyser, bestuurder van die skoolbussie, sportafrigter en kultuur-koördineerder begin.
“My liefde vir kinders was maar altyd daar omdat ons ’n gesin van nege kinders was en ons altyd gelukkig en vol vreugde grootgeword het, waar elkeen sy taak gehad het om te verrig – van groot tot klein.”
Farmer het haar skoolloopbaan by die Hoërskool Schoonspruit in Malmesbury voltooi. Daarna het sy haar onderwysopleiding aan die Bellville Opleidingskollege begin en later haar graad by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie in Wellington verwerf.
Dié gesoute onderwyser het by die Laerskool Panorama en Diazville Primêr as ’n kontrak-onderwyser begin voordat sy permanent by Karitas aangesluit het.
Sy vertel dat sy al die kinders van die skool gaan mis – “veral die kleintjies, want hulle gee hul onvoorwaardelike liefde en drukkies elke dag. Hul eerlikheid en sêgoed is op die man af en net soos hulle by die huis praat, so sê hulle die ding, wat soms komies en lagwekkend is, maar ook soms vol kommer is oor wat in hul lewe daar buite gebeur. Hulle kan jou slegte dag in ’n japtrap verander as hulle die klas binnekom, veral ná ’n naweek.”
Algernon Erasmus, skoolhoof van die Karitas Spesiale Skool in Vredenburg, sê hy het vir Farmer as ’n kollega met ’n passie en liefde vir die spesiale kinders leer ken, en as ’n opvoeder vir wie dit op die hart lê om die kind se ontwikkeling optimaal te laat realiseer.
“Dankie vir die voorbeeld van toewyding en omgee wat so deel van jou is; ek glo dit het elkeen van ons geïnspireer. Juffrou Farmer laat ’n leemte by die skool wat baie moeilik gevul sal word. Ons skoolbeheerliggaam, personeel en kinders wil dankie sê vir haar lojaliteit en toegewydheid oor die jare. Die skool wens haar alle seënwense toe vir haar aftrede, haar voetspore laat sy letterlik en figuurlik op die personeel en by die leerders van Karitas Skool. Dit was ’n voorreg om saam met juffrou Farmer te kon werk,” sê Erasmus.
Farmer wens alle onderwysers by die skool sterkte toe met die uitdagings wat voorlê. Sy meen hulle moet die dag begin met gebed en vra dat God hulle deur moeilike omstandighede sal lei.
“Maak dit ’n voorneme vir 2025 om waardes weer terug te bring in ons skole. Ek groet u as ouers en Karitas-personeel en almal in die Weskus. Ek gaan nou oor na my rusfase waar ek, as die Here wil, my passie om kreatief te wees sal uitleef.
“Geseënde Kersfees en voorspoedige Nuwejaar word u almal toegewens,” groet Farmer.





