Wilhelm Markus (direkteur: Gemeenskapsdienste Weskus-distrik), raadsheer Boffie Strydom (uitvoerende burgemeester, Weskus-distriksmunisipaliteit), Klasie Heyns, David Joubert (munisipale bestuurder van Weskus-distriksmunisipaliteit) en Hugo Brand (senior bestuurder: Weskus-distriksmunisipaliteit).Foto:


Nicolaas Johannes (Klasie) Heyns het op Sondag 1 September 35 jaar diens as Omgewingsgesondheidspraktisyn by die Langebaan-kantoor voltooi.

Die beroep het verskeie benamings waarvan gesondheidsinspekteur die bekendste is.

By voltooiing van sy studies aan die Universiteit van Tegnologie in Kaapstad (1981 – 1983) het hy by Nasionale Gesondheid, Kimberley (1984-’86) en later ook Stellaland (1987-’89) gewerk voordat Langebaan hom as hoof: gesondheid en boubeheerbeampte aangestel het. In Desember 2000 is Langebaan by Saldanhabaai ingelyf en hoewel hy en ander later na Weskus-distrik oorgeplaas is, het hy altyd in Langebaan gewerk.

Op ’n onlangse raadsvergadering by die Weskus-distrik se munisipale kantore is Heyns vir sy jare lange diens bedank. Heyns het sy dankbaarheid uitgespreek vir die geleentheid wat hy gehad het om so lank in die openbare sektor te kon werk. Volgens Heyns was alles nie altyd maanskyn en rose nie, maar het hy sy werk geniet. “Soms moes ek wetsoortreders aanspreek en ’n paar voor die hof daag. Ek is net dankbaar vir die beroep wat my in staat gestel het om ’n daadwerklike verskil in gemeenskappe te maak,” het Heyns gesê.

Ná sy aftrede wil Heyns graag soveel tyd moontlik met sy familie deurbring en hy sien daarna uit om besig te bly met aktiwiteite en projekte in die gemeenskap.

Heinrich Robertson, woordvoerder van Weskus-distriksmunisipaliteit, sê Heyns was ’n toonbeeld van ’n openbare amptenaar. “Hy het beslis die beeld van Weskus uitgedra en die terugvoering van die kliënte wat Klasie besoek het, was oor die jare meesal positief. Hoflik, vriendelik, aangenaam om mee te werk en uiters professioneel. Dit is wat Klasie vir die distriksmunisipaliteit beteken het. Ons bedank hom vir sy bydrae en sien uit om die leersame wat hy in die werksplek agterlaat uit te leef.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article