’n Bejaarde boer van St Helenabaai wat van aanranding aangekla is en reeds die aand van sy inhegtenisneming vrygelaat is, het die gemeenskap van Laingville erg ontsteld gelaat.
Die 65-jarige boer is reeds op Vrydag 15 November op polisieborgtog van R5 000 vrygelaat, wat volgens die gemeenskapsleier Thyrone Williams onregverdig is. “As dit nou een van óns mense was, sou ons die sewe dae in die selle moes gaan lê tot ’n formele borgtogaansoek.”
Die boer word van aanranding op Babini Rasmeni, ’n inwoner van Laingville, bekend as “Two Boy”, aangekla.
Die aanklag spruit uit ’n beweerde onderonsie op die beskuldigde se plaas op Vrydag 8 November. Wat presies die omstandighede is rondom die beweerde aanranding, vorm deel van die Vredenburg-polisie se ondersoek. Hulle ondersoek ook gerugte dat die klaer ná die aanranding in ’n bagasiebak toegesluit is.
Die polisiebeamptes het aangeteken dat hulle geen sigbare tekens van aanranding op die klaer kon sien nie, maar die mediese verslag oor sy toestand ná die aanranding word nog afgewag.
Volgens Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, is polisieborgtog niks vreemds nie. Dit is beskikbaar vir geringe oortredings soos diefstal onder R2 500, aanranding of die besit van sekere dwelms.
“Dit beteken die beskuldigde betaal ’n borgtogbedrag by die polisiekantoor en word dan gewaarsku om op ’n sekere datum in die hof te verskyn,” het Ntabazalila gesê.
Die boer verskyn op Donderdag 28 November in die Vredenburg-landdroshof.




