Hester Basson (85), oftewel Aunt Tos (voor) en Lenie Prezens (79), of Auntie Tossie, soos sy genoem word, in 2014 voor die Hoedjies­museum in Saldanha.


Opwaarts by die heuwel en tussen die laaste paar oorspronklike huise van Hoedjieskop in Saldanha staan Saldanha se museum.

September is Erfenismaand, en as deel hiervan fokus Weslander op verskeie van die streek se trekpleisters en geskiedkundige besienswaardighede.

Een van Saldanha se erfenis-trekpleisters is die Gerald Stoffberg Saldanhabaai-kultuurdorp. Dit is waar die museum met Saldanha-, vissers- en dorpsgeskiedenis te vinde is.

Hester Basson (85) en Lenie Prezens (79) het destyds as toergidse vir ’n besoek die museum opgetree.

Saam het Basson en Prezens, oftewel Aunt Tos en Auntie Tossie, soos hulle hier bekend was, vertel van die potbrood, smoorsnoek en afval wat hulle as kinders geëet het. “Daardie tyd was die seekos volop – ons het ná skool strand toe gehardloop en die mossels met die hand van die klippe afgehaal. Dan het ons dit net daar op die strand gekook en die res huis toe gebring,” het Auntie Tossie vertel.

Volgens die twee Saldanhabaaiers was die erfenis van die gemeenskap aan’t uitsterf omdat plaaslike inwoners nie belangstel in hoe dinge eens was nie. “Ons kry toergroepe van oorsee – Duitsland en Engeland – maar ons eie mense besoek nie die museum nie. Dit is asof hulle nie eens nuuskierig is oor hul eie geskiedenis nie.”

Die vroue het destyds vertel hoe die baai eers gelyk het, die hawe se rol in die Tweede Wêreldoorlog en hoe hulle as jongmense in Pepperbaai leer swem het.

Daar is ook die geskiedenis van die Silverman-familie wat destyds die Saldanha Bay Canning Company besit het. Baie vroue van die gemeenskap, onder wie Aunt Tos, het by dié fabriek gewerk.

“Dit is die nette hierdie wat die vissermanne self gemaak het. Later is dit egter deur die meisiemense oorgevat. Dit is Auntie Nitta en Aunt Lizzie hierdie, en my eie tante het ook daar gewerk,” het Prezens verduidelik terwyl sy die mense op die foto’s uitgewys het.

Belangstellendes kan enige navraag oor die museum na gsculturalvillage@gmail.com stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article