“If I could turn back the time, I’ll do it for you, but time slipped away from me . . .”

Jip, dis weer daai tyd van die jaar. Dis festive innie Kaap. En of jou nou van Judy Boucher se musiek hou of nie, sy gaan weer vanjaar haar draai in die Wes-Kaap kom maak. Sy het nou maar eenmaal net daai magic touch om die volk aan die huil te sing – veral as daai voggies hier net ná middernag begin trek en iemand skielik begin verlang na daai lang verlore eerste liefde. Of daai antie is kwaad omdat manlief net die helfte van die werksbonus kom afgee het. Dan moet antie Judy maar weer uithelp om die liefdesvuurtjie opnuut aan die gang te kry. Ai, ek wonder by tye hoeveel Judy Boucher-kleingoed hier in pragtige provinsie rondloop.

Voordat die tentpenne ingeslaan word vir daai twee weke jaareind-kamp by Harmony Park, hoop ek darem die hamper-antie het julle nie hierdie jaar teleurgestel nie. Onthou, dié tyd van die jaar draai daai antie diep gelowig. Ek het hoeka nou die dag gehoor sy laat weet haar kliënte op sosiale media dat sy nie vir haar skatte hier op aarde vergader nie. Sy beywer haar vir haar hemelse beloning. O ja, party van julle het mos sommer twee anties – een vir die kos-hamper en die ander een vir die vleis-hamper. Maak tog asseblief seker dat jy daai antie van die vleis-hampers goed ken en haar met jou lewe vertrou, want kinta, die soort vleis wat ’n mens deesdae te koop kry . . . Ken jou skaap- en beessnitte en moet tog nie met volksvreemde diere gaan opeindig nie. Dis rof hierbuite. En kies tog jou wors versigtig hierdie jaar. Ons wil jou darem nog ’n Hêppie Nuwejaar toewens. Moenie net die dikste wors loop kies nie en dan het jy nie ’n idee wat die binnegoed van daai wors behels nie. Wees vriendelik gewaarsku.

Feestyd is familietyd; hoe dan nou anders. Party families het mekaar die vorige jaar laas gesien, maar ai toggie . . . as jy hierdie jaar vir die familie gaan kuier, doen tog jou deel vir die lekker samesyn. Moenie met leë hande by die mense opdaag nie. Jy behoort darem mos teen dié tyd agter te kom dat daai kalkoen en gammon waarvoor jy so lief is, deesdae ’n plaas se prys kos. En as jy weet dat jou kloegoed vir ontbyt maklik twee brode, ’n groot stuk kaas, twee pakke Weense worsies en ’n kan melk in ’n oogwink kan vernietig, dan beter jy daai kos-hamper-antie vinnig opspoor en haar hier op aarde hou voordat sy lus kry om na haar hemelse tuiste te gaan. Verduidelik nog ’n keer jou feestydplanne vir haar en dat jou kinders soos stofsuiertjies is as dit by die eetsaak kom. Noem sommer ook vir wat jy aan haar sal doen as sy dit gaan waag om met jou hamper-geld weg te hardloop. Jy het mos genoem dat jy haar reg deur Krismis en Nuwejaar na Mariah Carey se “All I want for Christmas is you” gaan laat luister!

En gepraat van daai bonusgeld wat jy by jou werk gekry het – of dalk nog gaan kry. Manne, laat staan daai gedagtes van jou dat jy ewe skielik op stand-by by die werk is hierdie feestyd. Daar is baie mense wat jou ken en hulle sal gou agterkom as jy jou lyf op Lambertsbaai se strand wil ewig jonk hou in jou help-my-jonk-lyk-T-hempie. Ek meen maar, jy weet jou vrou kyk na julle vier kinders en die volgende papnekkie is in Februarie op pad. En dié van julle wat daai nuwe kar met die bonusgeld gaan koop, ry tog maar versigtig. Wees nederig en moenie loop en spog met daai blink wiele van jou nie. Daar is diegene wat graag links voor by jou wil sit en daai bonuspakkie sent vir sent wil leegmelk. Gaan bederf eerder vir vroulief en die kinders met ’n lekker naweek by die see in Paternoster. Glo my, vroulief sal sorg dat julle nog lank in Januworry ’n geldjie vir kos en die kinders se skoolboeke het.

Ek sien al hoe kreun daai tafels onder die kos en drinkgoed hierdie Krismis. Dié van julle wat so hard gewerk het aan daai somerlyfie – hou tog matigheid voor oë, want jy weet al te goed hoe maklik daai sespak van jou in ’n biervaatjie kan verander. Ek hoef seker nie eens aan ons mooie dames te verduidelik hoe daai ekstra bakkie koekstruif tussen jou en jou tweestuk-baaikostuum op die strand mag staan nie. Jy het van Septembermaand af net te hard gewerk om die koppe op die strand te laat draai. Maar as jy dan nou volstaan by die dis-frikkie-dis-festive, dan kan ek seker nie in jou pad staan nie!

Die jaar was lank. Jy het hard geswoeg vir jou paar sente. Jy mag dit maar geniet. Die kos en ander lekkernye saam met familie en vriende mag maar die in-ding wees. Maak net seker ons sien jou aan die anderkant van die ou jaar. Vreugdevolle feestyd!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article