Die gesin het mekaar vasgedruk terwyl gebed in die koel namiddagbriesie in die hof se parkeerterrein opgeklink het.
Dis Sondag 12 Junie, presies ’n week nadat die sewejarige Eljay Meyer van Vredenburg vermis geraak het en net ’n paar dae nadat sy liggaam by die Jesus-klip gevind is.
Die groep mense, wat Sondag by die Vredenburg-hof opgedaag het om Eljay se familie te ondersteun, is duidelik diep geraak deur die hartverskeurende emosies van ’n verpletterde ma, pa en ouma toe ’n lid van die gemeenskap vir hulle gebid het.
Die doel van die bymekaarkoms was om Eljay se gesin, wat in Witteklip (Hopland) woon, met geldskenkings en kos in hierdie hartseer tyd te help.
Van hier het die groep ondersteuners in hul motors, en sommige op hul motorfietse, in konvooi na twee ander plekke gery waar nog hartroerende oomblikke gedeel, geld ingesamel en die kosskenkings agter op ’n bakkie gelaai en vervoer is.
Howard Louw, een van die organiseerders, het namens Eljay se familie almal bedank wat aan die geleentheid deelgeneem of geld en kos bygedra het.
“Elke drukkie, handskud en skenking – daar is nie woorde om die dankbaarheid uit te spreek nie,” het hy bygevoeg.
Hy het ook konst. Alvin Koopman, die hooforganiseerder, munisipale raadslede, die verkeersdepartement en die Weskus-gemeenskap vir hul bydrae tot die inisiatief bedank.
“Kom ons bly biddend en ondersteun die familie in hierdie tyd van rou. Rus in vrede, Eljay,” het hy gesê.
Maandagaand tydens die roudiens in Witteklip het die plaaslike raadslid Michael Schaffers aan die rouklaers gesê die laaste foto wat Eljay se juffrou van hom die Vrydagoggend voor sy dood by Eden Primêr geneem het, het volgens hom ’n spesiale betekenis. Op dié foto kyk Eljay met verwondering na sy takie wat hy daardie laaste skooldag voltooi het – ’n driedimensionele vorm van Jelly Tots en stokkies gemaak.
Schaffers het verduidelik Eljay het daardie dag sy skoolprojek op sy heel laaste skooldag voltooi en ’n mens kan profeties daarna kyk dat “die Here hom kom haal het” nadat hy alles wat hy in sy kort lewetjie veronderstel was om te voltooi, suksesvol klaargemaak het.
Pastoor Liezel Damon sê sy het na die gesin uitgereik vir berading en bemoediging. Damon se kleinkinders en Eljay was maats.
“Hulle is baie seer, maar ek probeer nou net dat hulle by die Here uitkom,” het sy verduidelik.
“Ons moenie nou met hierdie gesin opgee nie; ’n lang pad van herstel lê nog vir hulle voor.”
Eljay het hom volgens die lykskouingsverslag heel waarskynlik van ’n hoogte af dood geval terwyl hy Sondag 5 Mei saam met maats by die groot rots in Vredenburg, in die volksmond bekend as die Jesus-klip, gespeel het.
Maar sy familie is skepties oor die oorsaak van sy dood en vermoed steeds onraad. Hulle worstel met talle onbeantwoorde vrae.





