Die eerste Suid-Afrikaanse Kaasfees aan die Weskus het die afgelope naweek nuwe hoop na die platteland gebring. Duisende feesgangers het Saterdag 23 en Sondag 24 April by die Groote Post-wynlandgoed in die Darling-heuwels saamgetrek.
“Dit is ’n groot stap vorentoe nadat die fees die afgelope twee jaar aan bande gelê is,” sê Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, sedert 2002 die organiseerders van die SA Kaasfees.
Kaasliefhebbers kan die komende langnaweek van 30 April tot 2 Mei die SA Kaasfees by Sandringham buite Stellenbosch besoek om kaas en ander lekkernye te proe en te koop, asook ’n vol vermaakprogram met bekende kunstenaars, pas-en-proe-ervarings, ’n kaaskerfkompetisie en selfs ’n kans om melkkoeie te leer ken, geniet.
Kaartjies is by Webtickets te koop (gratis toegang vir kinders onder 13 jaar) en die volledige feesprogram is by www.cheesefestival.co.za beskikbaar.





