Padblokkades gaan daagliks oral in die Weskus gehou word.Foto: SAPD


Die Weskus-polisiedistrik het sedert Vrydag 15 Desember talle geïntegreerde optredes oor munisipale grense heen gehou om motors en verdagtes te deursoek en op onwettige dwelms en ander goedere beslag te lê.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, sal dit ’n daaglikse gesig in die Weskus wees tydens die feestyd, wat pas begin het.

Die spanne het bewusmakingsveldtogte gehou, mense op parool besoek, spaza- en snoepwinkel-eienaars aangespreek, padblokkades gehou, mariene- en kusverwante misdade geteiken en sigbaarheid is verhoog – hoofsaaklik in geïdentifiseerde brandpuntgebiede.

Die optredes is gesamentlik uitgevoer deur lede van die polisie, die departement van bosbou, visserye en die omgewing, Cape Nature, die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Korrektiewe Dienste en wetstoepassingsbeamptes van Cederberg, die Bergrivier, Matzikama, Swartland en die Weskus-distriksmunisipaliteit.

Twee hommeltuie van Weskus-rampbestuur is ook ingespan.

Die optrede is Vrydag 15 Desember in die Porterville-omgewing gehou en 10 verkeersboetes ter waarde van R10 000 is uitgereik. Saterdag het dit geskuif na Brand-se-baai tot Doringbaai en 11 kusinspeksies en drie afritinspeksies is gedoen, 11 voertuie is geïnspekteer, 12 waarskuwings vir onwettige kampering is uitgereik, ses mense op parool is nagegaan en 14 verkeersboetes ter waarde van R11 300 is uitgereik.

Die optrede is Sondag tussen Vredenburg en Saldanha gehou en verkeersboetes ter waarde van R37 600 is uitgereik. ’n Man van 42 is om 10:30 op die R45 weens dronkbestuur in hegtenis geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article