“Onnatuurlike dood”.

Dít staan op Christolene Van Wyk (23) se doodsertifikaat nadat sy Sondagoggend 6 Maart dood in ’n veld in Magnoliastraat, Blikkiesdorp in Noordhoek, Velddrif aangetref is.

Die feit dat sy op ’n onnatuurlike manier gesterf het, is al wat Christolene se familie van haar raaiselagtige dood weet en die onbeantwoorde vrae knaag aan hulle.

Volgens Violynn Sauls, die oorledene se niggie, het ’n groep kinders die betrokke Sondagoggend na die veldjie gegaan om te gaan sokker speel toe hulle op Christolene se lyk afgekom het.

Violynn sê sy en haar familie was in die kerk toe die lyk ontdek is, en die enigste een wat die polisie op daardie tydstip in die hande kon kry, was ’n neef van Van Wyk, ’n brandweerman wat ten tyde van die ontdekking op roep was. Volgens Violynn het hy met die bakkie na die veld gery waar hy ’n groep mense saam met die polisie gesien saamdrom het. Hy het sy niggie Christolene dadelik herken.

Die volgende dag is Violynn en haar skoonsuster Amelia Saul na die lykshuis waar hulle Christolene amptelik gaan uitken het.

“Christolene is baie blou om haar ken en ek kon bietjie bloed in haar mond sien. Daar is ook ’n merk op haar kop en krapmerke in haar nek,” het Violynn verduidelik.

Die familie vermoed iemand wou Christolene dalk onsedelik aanrand en toe sy haarself teësit, het hy haar doodgemaak.

Christolene en haar seuntjie (4) het ten tyde van haar dood by Amelia en haar man, Jack Sauls in Noordhoek gewoon.

Die kleuter het die Saterdagaand voor sy ma se lyk ontdek is, by sy pa gekuier en volgens Violynn het Christolene heel waarskynlik die Saterdagaand voor haar dood saam met vriende uitgegaan.

“Dis so vreesaanjaend om te dink dat ons moontlik haar moordenaar ken en dat hy steeds hier tussen ons rondloop,” het Violynn erken.

Sedert Christolene se dood is die seuntjie bedags by sy pa en snags by Amelia en Jack.

Volgens Violynn moes Christolene haar werk bedank om na haar seuntjie te kyk, omdat sy nie ’n bevoegde persoon kon vind wat bereid was om na hom om te sien wanneer sy werk nie.

Jack en Amelia is tans op soek na ’n geskikte dagmoeder of dagsorg wat bekwaam is om in die kleuter se spesiale behoeftes te voorsien.

“Ons soek antwoorde oor Lientjie se dood, maar die polisie wag steeds op die nadoodse verslag sodat ’n moorddossier moontlik geopen kan word. Sy is al langer as ’n maand dood en ons is nog niks nader daaraan om antwoorde op ons vrae te kry nie.”

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die plaaslike polisie-kluster, is ’n geregtelike doodsondersoek geopen.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article