Paternoster het Saterdag op sy goeie vertonings tot dusver hierdie seisoen voortgebou toe hy Hopefield 27-15 geklop het.
Paternoster, wat rustyd reeds 15-3 voor was, het die besoekers met rotsvaste verdediging behoorlik gras laat eet. Die tuisspan, wat met ’n strafskop eerste bloed geruik het, het egter sy besoekers weens swak dissipline toegelaat om sake gelyk te maak.
Die tuisspan het daarna sy voorsprong met hope balbesit en gebiedsvoordeel vergroot en die besoekers kon eenvoudig nie al die gate toestop nie.
Die tweede helfte was egter meer gelyk en Hopefield, wat die seisoen goed begin het, was by tye ongelukkig om nie aanvallende spel in punte om te skep nie.
Beide spanne het 12 punte in die tweede helfte aangeteken.
Dié oorwinning het Paternoster vierde op die punteleer gelaat. Hy is nou slegs ’n enkele punt voor Mamre, wat op sy beurt op die grafkelder 18 elk gelyk teen Young Hearts gespeel het.
Vredenburg se Burg Boys, wat maar effens op die veld presteer ná ’n rits swak vertonings, het weer momentum gekry toe die span 16-16 teen St. Helenabaai gespeel het. Die gelykopuitslag het die Albatrosse na die derde plek laat terugsak – een punt agter Velddrif en ook met een wedstryd minder as Velddrif.
Saldanha, die verdedigende kampioen, is besig om sy voorsprong op die punteleer te vergroot en is nege punte voor Velddrif. Alle paaie sal die naweek na die Saldanha-stadion lei waar die Burg Boys besoek aflê. Vredenburg het ’n oorwinning broodnodig om sy seisoen weer op dreef te kry.
Velddrif het ook op sy tuisveld gewys hy is honger om in die top-twee te eindig toe Koringberg geen antwoorde op die tuisspan se vrae gehad het nie. Velddrif het die stryd 73-23 gewen.
Volledige uitslae: Vredenburg 16-16 St. Helena, Piketberg 18-24 Saldanha, Paternoster 27-15 Hopefield, Velddrif 73-23 Koringberg en Young Hearts 18-18 Mamre. Swartland: Moorreesburg 22-19 Never Despairs, Goodhopes 46-41 Porterville, Wesbank 38-35 Darling, Riebeeck United 22-40 Abbotsdale en Villagers Wittewater 6-36 Saron.
Die naweek se speelrooster:
Weskus: Saldanha t. Vredenburg, Langebaan t. Velddrif, Koringberg t. Paternoster, Hopefield t. Young Hearts en Mamre t. Piketberg. (St. Helena los)
Swartland: Moorreesburg t. Wesbank, Goodhopes t. Riebeeck U, Never Despairs t. Porterville en Villagers Wittewater t. Abbotsdale. (Darling/Saron los)





