Helena van der Westhuizen en die Hopefield Fynbosskou is sinoniem.
Dit is ‘n storie van passie, erfenis en ‘n liefde vir die natuur wat diep wortel skiet in Hopefield se fynbosveld.
As voorsitter van die skoukomitee koester sy dit wat nou al 36 jaar terug deur Fiona Kotze en die boere van Hopefield gestig is.
As derdegenerasie byeboer en stigter van Simply Bee, is Helena nie net bekend vir haar natuurlike produkte wat gemaak word van heuning, byewas en propolis nie, maar ook as ‘n kampvegter vir die bewaring van die Kaapse fynbos en die onskatbare rol van bye in ons ekosisteem.
Sy glo vas: sonder bye het die mens geen toekoms nie.
Die Hopefield Fynbosskou, wat vanjaar op 28 Augustus plaasvind, is vir Helena veel meer as net ‘n geleentheid – dit is ‘n viering van alles wat sy liefhet: die biodiversiteit van die fynbos, die gemeenskap van Hopefield, en die opvoeding van jong en oud oor die belangrikheid van volhoubare byeboerdery.
Haar betrokkenheid by die skou – van die fynbos-uitstallings tot opvoedkundige praatjies en haar eie stalletjie vol natuurlike produkte – wys haar toewyding aan onderrig en bewusmaking.
Helena glo ook dat die skou van die gemeenskap aan die gemeenskap gegee word en sonder die vrywilligers sou hulle beslis nie ‘n skou kon hou nie.
So is sy weer oor die naweek gevra wat ‘n mens kan verdien om by die skou te werk. “Mense moet besef, hierdie is ‘n passie en die mense wat julle by die skou sien, is almal vrywilligers – op die veld, by die hekke, in die uitstalsaal, in die kossaal, die teetuin en biertent, niemand daar word betaal nie. Dankie dan ook aan al ons vrywilligers. Ons waardeer julle en sonder julle sou ons beslis nie ‘n skou kan hou nie.”





