Die bekende Hopefield Fynbosskou vier vanjaar sy 36ste bestaansjaar en bied van vandag (Donderdag 28 Augustus) tot Sondag 31 Augustus weer ‘n fees van kleur, geur en plaaslike kultuur.
Soos altyd is die hart van die skou die indrukwekkende fynbosuitstalling in die Fiona Kotzé-saal by die sportklub.
Hier kan besoekers sowat 500 verskillende fynbosspesies bewonder – versamel uit die Hopefield-distrik se sandveld-, rietveld-, vleiland- en renosterveldgebiede. Die saal word in ‘n kweekhuis omskep waar die plante in hul natuurlike staat vertoon word, volledig met kennisgewingbordjies en gidse wat vrae kan beantwoord.
Kenners beskou dié uitstalling as een van die mees volledige in die land en gebruik dit selfs as ‘n verwysings- en navorsings-
projek. Die skou het in 1988 begin as ‘n gemeenskapsinisiatief om die plaaslike fynbos te bewaar, en het sedertdien gegroei tot ‘n volwaardige fees met kosstalletjies, musiekoptredes, kompetisies, opvoedkundige praatjies en kinderaktiwiteite.
Vanjaar kan besoekers ook uitsien na onder meer ‘n jongooi-kompetisie, skaapskeer, trekkerwa-ritte, handvlyt- en kunsuitstallings en vermaak in die biertuin.
Plaaslike kos bly ‘n hoogtepunt – van kerrie en waterblommetjiebredie tot bees- en hoenderburgers. Die gewilde “plankie-steak”-etes is gewoonlik vooruit uitverkoop. Daaglikse maaltye in die sportklub se eetsaal bring kontreikos op sy beste na die tafel.
‘n Trots van die streek is ook die wêreldbekende Hopefield-fynbosheuning – ‘n produk wat nie net in aanvraag is vir sy unieke smaak nie, maar ook waardevolle werksgeleenthede aan die gemeenskap bied.
Die byeboere werk nou saam met CapeNature om volhoubare praktyke te verseker.
Die fynbosuitstalling is oop van Donderdag tot Saterdag van 09:00 tot 17:00; Sondag van 10:00 tot 15:00. Toegangsgeld: Volwassenes: R70; senior burgers: R30; kinders (6-18 jaar): R20; jonger kinders: gratis. Vir meer inligting besoek hopefieldfynbos.co.za of volg “Hopefield Fynbosskou” op sosiale media.







