Vandeesweek is die koerant weer vol hartseer en swaar nuus.

Mense is in verskeie Weskusdorpe vermoor, ’n babalykie is in Piketberg gevind, nog iemand het sy lewe naby Hopefield verloor in die soveelste botsing aan die Weskus hierdie jaar (en ons trek nou eers by Februarie) en beurtkrag laat kospryse die hoogte in skiet.

Dis alles slegte nuus ja, en mense is moeg vir slegte nuus, maar die koerant weerspieël eenvoudig die nare realiteit van wat tans in ons gemeenskappe aangaan. As jy nie aan hoop vasklou nie, kan al die slegte omstandighede – en daar is beslis baie om oor te kla – jou in ’n diep donker gat van depressie trek. Jy loop die gevaar om sinies en bitter te raak. Laat ons dan nie op die negatiewe dinge fokus en toelaat dat dit ons vreugde steel nie. Daar is ook soveel mooi in die lewe om oor te jubel.

’n Dankbare hart bring vreugde – en dít is ’n Bybelse beginsel. Dit werk. Spreek jou dankbaarheid uit oor al die seëninge in jou lewe en ervaar self hoe die swaarheid jou verlaat. Laat ons dan ook dankbaar wees oor al die ligpunte in die nuus. Nuwe rolstoele is geskenk, ’n moordenaar is gevonnis en daar is ’n lekker resep op bladsy 9. Sê dankie as jy nog kan bekostig om resepte uit te toets, eet en gesellig wees in hierdie uitdagende tye.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article