Darling Brouery Extreme en ’n verskeidenheid borge het die Darling-bergfietsbyeenkoms Saterdag (25 Mei) by die Darling- brouery-aanleg aangebied.
Bergfietsryers uit verskillende oorde het op die dorp toegesak om ’n nuwe terrein, die Darling Brouery Extreme- (DBX) bergfietsbyeenkoms, met sy asemrowende wynroete en landskap aan te durf. Die byeenkoms het 850 deelnemers gelok, wat drie afdelings behels het.
Of jy nou ’n ervare professionele of ’n beginner-bergfietsryer is, of net ’n toeskouer was of ’n bietjie wyn wou proe, het die DBX iets spesiaals vir almal gehad. Deelnemers kon hul roetes uit drie afdelings kies – 25 km, 50 km en 80 km – en hulle in die gasvryheid van Darling en sy gemeenskap uitleef.
Volgens Danzel Andries, roetedirekteur, wat van dag een by die Darling Brouery Extreme betrokke is, is dit een van die opwindendste eendagbergfiets-renne in die Wes-Kaap, met ’n verskeidenheid epiese roetes wat by Darling Brouery begin en eindig.
Die geleentheid gaan elke jaar aan bergfiets-entoesiaste die geleentheid bied om op hul eie tyd en tempo die pragtige en beeldskone natuur met sy uitmergelende roetes rondom die Weskus-dorpie Darling te beleef.
DBX het telkens iets vir almal – van ervare bergfietsryers tot beginners en jongmense.
Die dag is moontlik gemaak deur Darling Brouery Extreme en die borge om bergfietsryers en toeskouers bymekaar te bring vir ’n dag om te onthou, met uitstekende musiek, kos en lekkernye in ’n gesinsvriendelike omgewing by die Darling Brouery-proelokaal, en om die verskeidenheid wyne van Darling te proe.
Darling Brouery is bekend vir sy handgemaakte biere en drankies, en dit was weer die ideale geleentheid om ná ’n taai bergfietsroete stoom af te blaas ná die geleentheid.





