Die spoorlose verdwyning van twee jong mense laat talle steeds kopkrap en min vordering is sedert hul onverklaarbare verdwyning gemaak om veel meer duidelikheid te bring oor wat van die twee, wat afsonderlik verdwyn het, geword het.
Hoewel die polisie weekliks verseker dat alle leidrade in die soektog na die 16-jarige Donna-Leigh Don, wat op 24 Julie in Lambertsbaai vermis geraak het, en Gino Dira (25), wat laas op 29 Julie in Saldanha gesien is toe hy vir sy middagstappie gegaan het, opgevolg word, is dit die families wat onverpoos vasklou aan hoop dat albei ongedeerd sal terugkeer huis toe. In die tye van sosiale media word daar dikwels baie gespekuleer en kommentaar gelewer oor waar hulle, hulle moontlik mag bevind en word daar ook dikwels vals hoop geskep deur mense wat hulle verbeel hulle het een van die twee iewers gesien, maar dit nie met konkrete inligting of bewyse kan staaf nie.
Dit is egter die soort nuus waaraan families vasklou, soos Billy Claasen, uitvoerende direkteur van die Landelike- en Plaaswerkers-ontwikkelingsorganisasie juis vandeesweek weer benadruk het – wees versigtig om roekeloos met inligting om te gaan. Maar moet nie ophou help soek en die families en polisie se oë en ore te wees nie, en meld waardevolle inligting dadelik by die polisie aan. Ons bid vir julle veilige terugkoms Donna-Leigh en Gino!




