Die Wes-Kaapse Regering (WKR) se Noordhoek-eSentrum het amptelik sy deure in Augustus 2016 oopgemaak.
Die vestiging van die eSentrum is gedryf deur die behoefte aan bekostigbare toegang tot rekenaars, die internet en opleiding in digitale vaardighede.
Volgens Chantell Coetzee, sentrum- bestuurder, is daar ‘n toenemende aanvraag vir dienste en opleidingsprogramme. Coetzee sê die missie van die WKR se eSentrum-program is om inligting en kommunikasietegnologie gratis toeganklik te maak vir gemeenskappe wat andersins digitaal uitgesluit sou wees.
“By Noordhoek is die fokus op digitale insluiting, vaardigheidsontwikkeling en toegang tot ekonomiese en opvoedkundige geleenthede. Inwoners het dikwels nie tuis toegang tot die internet of rekenaars nie, skoliere sukkel om take te doen, jongmense sukkel om werk te soek en werksgeleenthede te kry, en hulle kry nie toegang tot staatsdienste of aanlyn kursusse nie. Die WKR se Noordhoek- eSentrum is noodsaaklik om hierdie probleme te oorkom.”
Onlangs het die sentrum in samewerking met die Velddrif-jeugkafee en Noordhoek-biblioteek ‘n vakansieprogram vir kinders in die gemeenskap aangebied waar hulle aan verskeie opvoedkundige speletjies deelgeneem het.
Die sentrum het ook op Vrouedag ‘n funksie vir vroue aangebied.
Coetzee sê ‘n hoogtepunt vir die eSentrum is hul kursus e-Leerder en basiese rekenaargeletterdheid se gradeplegtigheid wat in Augustus plaasgevind het.
Van die Noordhoek-eSentrum se suksesverhale sluit in Jason Dampies, ‘n brandweerman wat die sentrum genader om te help met sy CV en dekbrief. “Toe hy genooi word vir ‘n onderhoud, het die personeel hom ook gehelp om vir sy onderhoud voor te berei.”
Die sentrum beoog om meer deelnemers aan hul programme te kry.
Kontak die Noordhoek-eSentrum by 071 300 8154 of stuur ‘n epos na noordhoek.ecentre@gmail.com vir inligting.






