Wanneer jy jou huis verkoop, kan doelgerigte herstelwerk en klein verbeterings ‘n beduidende verskil maak aan die prys wat jy uiteindelik behaal.
Volgens Marietjie Ruster van Marietjie Ruster-prokureurs is dit belangrik dat verkopers vooraf beplan.
“ ’n Onversorgde huis en tuin kan voornemende kopers vinnig afskrik,” sê sy.
“Met goeie beplanning kan die regte veranderings teen ‘n minimale koste aangebring word terwyl dit terselfdertyd die waarde van jou eiendom verhoog.”
Sy verduidelik strukturele probleme moet eerste aandag kry.
” ‘n Lekkende dak of ander sigbare gebreke gee ‘n koper onmiddellik rede om vir ‘n laer koopprys te onderhandel,” waarsku Ruster.
Die buitekant van ‘n woning speel volgens haar ‘n groot rol. “Dit is die eerste indruk wat ‘n koper kry. ‘n netjiese tuin, gesnoeide bome en ‘n grasperk wat goed in stand gehou is, maak ‘n groot verskil.”
Sy stel voor dat verkopers die voordeur verf, verouderde buiteligte vervang en seker maak dat vensters, geute, stoepe en opritte skoon en netjies is.
“Dit nooi kopers uit om die huis ver- der te verken,” sê sy.
Kombuise en badkamers beïnvloed veral kopers se besluite.
“Volledige opknappings is nie altyd
nodig nie,” verduidelik Ruster. “Koste-doeltreffende verbeterings soos die opknapping van kaste, herstel van lekkende krane, beter beligting en vars silikoon rondom teëls kan hierdie ruimtes aansienlik opgradeer.”
Verfwerk in neutrale kleure is nog ‘n eenvoudige manier om waarde toe te voeg. “Neutrale kleure help kopers om hulself in die ruimte te sien,” sê sy.
Beskadigde vloere, hetsy dit verslete matte, gebreekte teëls of verslete houtvloere is, moet ook aandag kry. “Sulke ooglopende gebreke steel die fokus van jou huis se sterk punte.”
Volgens Ruster maak klein besonderhede dikwels die grootste indruk.
“Vervang verouderde ligskerms en deurhandvatsels, herstel gate in mure en maak seker dat ligskakelaars en kragpunte werk.”
Skoon vensters, georganiseerde kaste en die verwydering van rommel dra alles tot ‘n positiewe indruk by. “Professionele skoonmaak laat ‘n huis intrek-gereed voorkom,” voeg sy by.
“Dit wys vir kopers dat die huis goed versorg is,” sê Ruster. “Met relatief min uitgawes kan jy die waarde aansienlik verhoog en meer belangstelling lok.”
Sy beveel aan dat verkopers ook vergelykbare eiendomme in hul omgewing ondersoek om te bepaal watter verbeterings plaaslik die meeste waarde toevoeg.





