Weskus-toerisme, onder die vaandel van die Weskus-distriksmunisipaliteit, het sy jaarlikse Verantwoordeliketoerisme-konferensie in Saldanha gehou.
Die konferensie het vanjaar op kuns en kultuur gefokus met die doel om in die toekoms ’n erkende Weskus-kunsroete te hê.
Toerisme vervul ’n baie belangrike rol om die plaaslike ekonomie te laat groei, en daarom gee die distriksmunisipaliteit voorkeur aan verskeie toerismeprojekte reg oor die Weskus, het gaste gehoor.
Boffie Strydom, die uitvoerende burgemeester van die Weskus-distriksmunisipaliteit, het die rol van kunstenaars in die toerismebedryf beklemtoon.
“Die Weskus is ’n baie unieke streek. Behalwe die mooi dinge om te sien, die lekker kos om te eet en die vriendelike mense, het ons ook briljante kunstenaars en entrepreneurs en dit is waarom ons vandag hier is – om die werke van ons kunstenaars en sake-eienaars in die toerismebedryf te erken en gedagtes uit te ruil oor hoe ons hierdie deel van toerisme kan uitbrei,” het Strydom gesê.
Oom Gert Bezuidenhout van die plaas Uitsig, buite Citrusdal, bou speelgoed van herwinbare produkte, en van sy speelgoed is by die konferensie uitgestal. “Ek wil Weskus-toerisme bedank vir hul ondersteuning en vir die platform wat vir ons geskep is. Dit gee my nuwe energie om my onderneming te laat groei,” het Oom Gert gesê.
Weskus-toerisme sal gedurende die volgende paar maande met verskeie ander rolspelers vergader om die Weskus-kunsroete te laat realiseer.





