Die Swartland- landelike veiligheidseenheid tesame met hul K9-eenheid lewer voortdurende suksesse in die bekamping van misdaad.
Hulle het tussen 11 en 13 Augustus in samewerking met munisipale wetstoepassers en die Suid-Afrikaanse polisiediens drie mense in onderskeidelik Malmesbury, Riebeek-Wes en Kalbaskraal in hegtenis geneem. Twee van die inhegtenisnemings was weens handel in dwelms en een weens ’n sakerooftog. Die polisie het op 23 halwe Mandrax-tablette en 15 bankies tik beslag gelê.
Die Wes-Kaapse minister van polisieoorsig en gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, het gesê gegewe die onlangse taxi-staking en die gepaardgaande uitdagings is hy trots om te sien die eenhede kon steeds daarin slaag om te verseker dat misdadigers van die strate af verwyder word.
“Hulle dra sekerlik daartoe by om ’n veiliger Wes-Kaap te skep waar almal in verbeterde omstandighede en waardigheid kan lewe.
“As die Wes-Kaapse regering sal ons nie afstand doen van ons steun vir hierdie eenhede nie, aangesien hul ingrypings en bedrywighede ons help om ons uiteindelike doelwit te bereik, naamlik om die moordsyfer teen 2029 met 50% te verminder.”
Hy het gemeenskappe aangemoedig om hande te vat met hierdie eenhede asook ander plaaslike veiligheidsmagte insluitend wetstoepassers, die polisie, buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums om misdaad uit te roei.





