Adriaan Beukman (51), ’n ontspanningsduiker van Melkbosstrand het verlede Donderdag 29 September by Yzerfontein verdrink nadat hy saam met ’n ander duiker gaan vis skiet het.
Sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie het die voorval bevestig.
Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die ander duiker die betrokke Donderdagaand alarm gemaak toe Beukman naby die eiland by Yzerfontein se kusgebied onder die water verdwyn het.
Volgens inligting het die duikers vir ontspanning gaan duik toe Beukman in die moeilikheid beland het.
Die plaaslike polisie, lede van die Darling-plaaswag, die buurtwag van Yzerfontein en die oorledene se familie het met die soektog na Beukman gehelp.
Sy liggaam is later op die rotse gevind, naby die plek waar hy weggeraak het.
Die polisie het ’n geregterlike doodsondersoek ingestel.
“Die NSRI betuig sy innige medelye met die slagoffer se familie,” het Craig Lambinon, ’n woordvoerder van die NSRI gesê.




